Dané Laubscher op haar matriekafskeid Saterdag, 25 Oktober.

Die laaste matriekafskeid wat Michael Hetzel en sy span van Leopards & Lace gedoen het, was net so mooi, maar heeltemal anders as almal die afgelope paar weke.

Waar die ander afskeidgesellighede honderde matrieks van hul onderskeie skole saam met hul metgeselle ingesluit het, was daar Saterdag 25 Oktober net een matriek: Dané Laubscher.

Dané, dogter van Johan en Mylanie Laubscher, het reeds begin om haar matriek-eksamen aanlyn te skryf.

Dané Laubscher met haar metgesel Adam Barnard op haar eie matriekafskeid. FOTO’S: Michael Hetzel

Michael vertel: Ons glo elke kind verdien om gesien te word – om hul eie oomblik van glorie te hê.

“Toe hierdie besonderse aand aanbreek, het ons dit weer opnuut besef: ‘n Matriekafskeid vir één meisie.”

Dané was aanvanklik in die Laer Meisieskool Oranje en het uitgeblink in ‘n rits sportsoorte soos swem, netbal en hokkie. Dit was toe Dané begin perdry het, dat sy haar groot liefde gevind het. Met die hulp van haar afrigter Chrismie Venter van Groenvlei Perd en Ruiterpark, het Dané uitgeblink in dressage.

Ná die Covid-pandemie het sy in plaas daarvan om terug te gaan skool toe, voortgegaan met aanlyn-onderrig sodat sy beskikbaar was om meer tyd aan perdry te bestee. Sy is gekies vir talle Vrystaatspanne waar sy in spanverband en individueel as kampioen gekroon is.

Die idee van die matriekafskeid vir een het ontstaan by Dané se neef, Ruan en haar niggie, Saré Laubscher wat voorgestel het dat Dané haar eie matriekafskeid verdien.

Dané Laubscher is ‘n veelvuldige kampioen in dressage. FOTO: Verskaf

Die uiteinde was ‘n intieme viering van liefde.

“Dit was ‘n geskenk van familie aan een besonderse jong vrou en ‘n herinnering dat groot oomblikke nie net in skares gebeur nie, maar soms om ‘n enkele tafel tussen mense wat vir mekaar lééf,” sê Michael op sy Facebookblad.

“Onder sagte liggies, met ouers, boeties, ooms en tannies, niggies en nefies, en ’n baie spesiale ouma vol trots – het Dané dié aand haar eie sprokie beleef.”

Michael sê dit was vir hulle ’n eer om deel van dié aand te wees – om te sien hoe ’n droom met soveel warmte en opregtheid gevier word.

You need to be Logged In to leave a comment.