Spesiale vertoning vier 30 jaar van musiek

Arco Musica het Dinsdag (03/05) by die Hoërskool Sentraal gaan kuier om onderwysers en leerlinge ’n voorsmakie van die opwindende vertoning Arco se 30 Jaar Celebration Show te gee.


Arco Musica het Dinsdag (03/05) by die Hoërskool Sentraal gaan kuier om onderwysers en leerlinge ’n voorsmakie van die opwindende vertoning Arco se 30 Jaar Celebration Show te gee.

Die vertoning, wat op 20 en 21 Mei in die Doxa Deo-ouditorium in Fichardtpark te sien is, gaan ’n terugblik gee op dié musiekgroep se uitvoerings die afgelope 30 jaar.

Debbie en Arend Brink is altwee oudleerlinge van die Hoërskool Sentraal en hulle het dit daarom goedgedink om dié skool deel van hul vertoning te maak. Die skoolkoor sal dus ook op die twee aande optree.

“Ons is opgewonde omdat dit die eerste groot vertoning is wat ons in twee jaar kan hou,” sê Arend.

Hy sê dit is wonderlik dat sangers van formaat soos Riaan Hunter en Corneil Muller, asook Cézanne Yzelle en Arend Brink Jr. , sal optree.

Cézanne sê sy sing al tien jaar saam met Arco Musica.

“My eerste vertoning saam met hulle was vir die 20ste verjaardag. En nou is dit 30 jaar. Arco het nog altyd ander musikante by hul vertonings betrek,” sê Cézanne.

Riaan kom spesiaal uit die Kaap vir dié vertoning.

Die vertoning bestaan uit ’n groot verskeidenheid musiek – van instrumentele nommers en liedjies uit rolprente, tot bekende Afrikaanse liedjies.

Debbie sê van die hoogtepunte is ’n paar Italiaanse nommers waarin Riaan se stem tot sy reg kom.

Kaartjiepryse begin teen R140 en is by quicket.co.za beskikbaar.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.