Dit was op vele terreine ’n nuwigheid, maar eindelik was dit eenvoudig ’n lekker gesinsdag met vermaak vir oud en jonk.
Die eerste #Weesdieverskilfees, aangebied deur die ATKV in Bloemfontein by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, het besoekers vermaak met musiek deur Jannie du Toit; toneelspel deur die ATKV se Gemeenskapsteatertak in die spesiaal geskryfde Kersspel Wie is Jesus?; ’n poppespel vir die kinders; en ’n kragtoer deur Ilne Fourie in Next customer please . . .
Die dag is met Kerssang by kerslig afgesluit.
Ebeth Wilson, een van die organiseerders van dié daglange fees, sê hulle is tevrede met die opkoms.
Inwoners van die Jean Webber-huis was eregaste en gaan vandag (08/12) Kersgeskenke ontvang wat die gemeenskap aan die ATKV geskenk het.
Dané Swanepoel van die Oorlogsmuseum sê die boek ’n Blomblaar tuimel deur tyd, wat op die fees bekend gestel is, is ’n verhaal gemik op kinders wat hulle oor die Anglo-Boereoorlog leer.
Die boek is in Afrikaans, Engels en Sotho beskikbaar, en is die eerste in die Verlepte Blom-boekereeks wat Reneë Veldsman, ’n kreatieweskryffasilliteerder aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), vir die museum geskryf het.
Dele van die boek is deur Schoeme Grobler en Natalia Mojela van Puppetrix opgevoer, en kinders het dié poppespel met onder meer ’n volstruis en ’n vlakvark uit ’n deel van ’n Blomblaar tuimel deur tyd baie geniet.
Die boek is teen R50 by die museum beskikbaar en kan ook bestel word deur ’n e-pos te stuur aan Jane Kok by jane@anglo-boer.co.za.