Richard Maree is as Vrystaat Gholf se operasionele bestuurder aangestel. Foto: Lientjie Mentz

‘n Nuwe operasionele bestuurder vir Vrystaat Gholf is op 1 Julie aangestel.

Richard Maree sê sy passie is om meer spelers aan provinsiale toernooie te laat deelneem.

Sy pad met gholf kom van jongs af. Hy het in 2007 die eerste keer aan die Vrystaat-toernooi deelgeneem, en het in 2008 die Vrystaat-span gehaal. Daarna het hy tot in 2017 interprovinsiaal gespeel. In 2017 was die Vrystaat-span waarvan hy deel was die wenner van die interprovinsiale B-afdeling en is dié span na die A-afdeling gepromoveer.

Maree het professioneel gespeel totdat ‘n rugoperasie in 2019 ‘n einde aan dié droom gebring het.

“Ek het besluit as ek nie kan speel nie, wil ek gholf op ‘n ander manier my loopbaan maak.”

Hy het daarna ‘n PGA-diploma verwerf en het met afrigting van gholfspelers begin.

“Ek is baie dankbaar vir die blootstelling wat Vrystaat Gholf my gegee het en die geleentheid om nou te help om die volgende geslag spelers te ontwikkel.

“Ons as Vrystaat Gholf wil die spel beter maak en dit vir spelers lekkerder maak.

“Dit is belangrik dat spelers en die administratiewe kant van ‘n sportsoort hande vat ter wille van die sportsoort,” meen Maree.

“Ons moet vir spelers ‘n omgewing skep waarin hulle kan groei en hul sport ontwikkel.

“Dit is altyd goed vir spelers om mededingend te speel om vaardighede te slyp.”

Hiermee in gedagte moedig Maree spelers van alle ouderdomme aan om aan provinsiale kompetisies deel te neem. Dit sluit spelers op junior, senior en ope vlak in wat aan amateur-toernooie kan deelneem.

“Daar is ook ‘n fokus op meisies in gholf.

“Saam met spelers kan die sportsoort op mededingende vlak in die provinsie groei.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article