’n Groep ondernemings en gemeenskapslede het hande gevat om die munisipale Fichardtpark-sportklub te vernuwe en mooi te maak vir almal wat daar kom.
Mariette Bezuidenhout van Luvane Bootcamp sê toe die oefenkamp verlede jaar hierheen geskuif het, het Jonas Cotso wat by die sportklub werk, spontaan begin om die omgewing mooi te maak.
Salome le Roux van Frikkie le Roux-makelaars het borge genader en verf is geskenk waarmee mure en vloere geverf is en verbeteringe is aangebring.
Sy sê die Fichardtpark-woonbuurtvereniging (FWA) het hul ondersteuning gebied en sny die veld netjies om die geboue.
Intussen het ’n pickleball-baan ook hier oopgemaak wat die verskeidenheid aktiwiteite by dié klub wat pluimbal, muurbal, ’n gimnasium insluit, verder uitgebrei het.
Lucy van Vuuren van Luvane Bootcamp sê danksy bydraes wat ontvang is, kan die ou tartanbaan waar hulle oefen vernuwe word. Dit sluit in die vul van gate en ’n nuwe boonste laag tartan.
“Ons is dankbaar vir almal wat gehelp het met verbetering. Ons is ook dankbaar vir die Mangaung-metro wie se eiendom hierdie is, wat ons die vryheid gegee het om verbeterings aan die geriewe aan te bring om dit vir almal lekkerder te maak,” sê Lucy.