Daar was die naweek groot opwinding toe al drie Bloemfonteinse skole in die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks hul teenstanders op eie bodem ontvang het.
Die Hoërskool Fichardtpark het in hokkie, netbal en rugby teen die Hoërskool Witteberg van Bethlehem meegeding.
Met die eerste rugbyspanne se wedstryd het die span van Witteberg die wind tot sy voordeel gebruik en teen rustyd ’n voorsprong van 14 – 0 opgebou. Die Fichies kon nooit dieselfde voordeel in die tweede helfte met die wind in hulle blaaie benut nie. Witteberg het met 36 – 15 geseëvier.
In netbal en meisiesshokkie het Witteberg ook koning gekraai. In die seunshokkie het Fichardtpark die bordjies verhang. Nadat Fichies in 2023 die Wesgrow- en Vrystaat-bekers met sy eerste seunshokkiespan gewen het, het die skool se manne Saterdag gewys dat hulle weer ambisie het om die Wesgrow-beker te wen. Hulle het die eerstespanwedstryd met 4 – 0 gewen.
By die Hoërskool Jim Fouché het dié skool op die netbalbaan geskitter deur tien van die 11 wedstryde teen die Hoërskool Trio van Kroonstad te wen.
JF se eerstespan het nie Saterdag hier gespeel nie omdat dié spelers aan die Suid-Afrikaanse Skolesportkompetisie in Roodepoort gaan deelneem het.
Rugby tussen hierdie twee skole is altyd uiters mededingend en van hoë gehalte.
Trio het vasgestaan en 5 van die 8 wedstryde gewen wat op die dag gespeel is.
Op die sintetiese hokkieveld was die stryd tussen JF en Trio baie gelyk, met JF wat vyf wedstryde gewen het. Die eerste meisiespanne het ná ’n naelbytwedstryd gelykop gespeel.
By die Hoërskool Sentraal het die Hoërskool Voortrekker van Bethlehem kom meeding.
Voortrekker het op die rugbyveld die hef in die hand gehad en het die o.19- en die o.14-wedstryde gewen. Sentraal se o.15B-span het met 31 – 5 gewen, en die o.16A-span spog met ’n oorwinning van 36 – 19.
Op die netbalbaan het Sentraal se o.15-spanne al vier hul wedstryde gewen: die o.15A-span (25 – 9), B-span (21 – 9) en C-span (29 – 12) en D-span (23 – 8).
Sentraal se o.14A-seunshokkiespan het laat waai met ’n oorwinning van 10 – 0, met ook die o.16A-span wat Voortrekker met 4 – 0 geklop het.