’n Jong kragvrou wat verlede jaar eers aan kragoptel begin deelneem het, het drie goue medaljes ontvang op die Internasionale Kragoptelfederasie (IFP) Kragoptel-Statebondspele wat op 28 November in Auckland, Nieu-Seeland, plaasgevind het.
Roechelle van der Merwe, ’n gr. 10-leerling aan die Hoërskool Jim Fouché, het nie net die een medalje ná die ander in die afdeling vir subjunior vroue o.76 kg verower nie – al nege haar optelpogings was boonop suksesvol.
Sy het ’n goue medalje behaal in hurksit met ’n gewig van 132,5 kg.
Ook in die dooiegewigoptel het sy goud verower met ’n gewig van 155,5 kg.
Sy het ’n silwermedalje gewen in bankiedruk met ’n gewig van 65 kg.
Sy het ook algeheel ’n goue medalje in haar afdeling verower, met haar totaal van 353 kg vir al die nommers waaraan sy deelgeneem het.
Met haar deelname het sy vier statebondrekords, asook vier Afrika-rekords, verbeter.
Dit is slegs die tweede keer dat Roechelle aan internasionale kompetisies deelneem.
In September het sy aan die IFP se Wêreldkampioenskapsbyeenkoms vir juniors en subjuniors in Turkye deelgeneem. Op dié byeenkoms was die gewig wat sy vir hurksit bemeester het 130 kg en die algehele gewig wat sy daar opgetel het, was 340 kg.
Roechelle se ma, Roelien, het saam met Roechelle na Nieu-Seeland gegaan.
Hulle het tuisgegaan by Paul en Rulene Africa, wat sewe jaar gelede van Kaapstad na Nieu-Seeland verhuis het.
“Hul seun Sloan het ons die omgewing gaan wys. Die gesin bly in Pukekohe, en die kompetisie waaraan Roechelle deelgeneem het was in Manukau.”
Roelien sê Roechelle het in Auckland van die Sky Tower gevryval met ’n kabel.
“Ons het die uitstappie na Nieu-Seeland baie geniet.”
Roechelle het ook op 5 November deelgeneem aan die Vrystaat-kampioenskappe waar sy gekwalifiseer het vir die Suid-Afrikaanse kragoptelkampienskap wat in Maart aangebied word. Op die plaaslike kompetiise het sy 120 kg gelig in die hurksit, 62,5 kg in die bankiedruk en 140 kg gelig in die dooeigewigoptel.