Met die Olimpiese Spele wat tot ’n einde gekom het, kan Vrystaatse sportsterre nou na die volgende groot sportskouspel uitsien.
Die Vrystaatse Sportster van die Jaar-toekenningsgeleentheid vind oor minder as twee maande in Bloemfontein plaas.
Dié glansgeleentheid bied jaarliks vir die provinsie die kans om met sy sportspanne, -manne, en -vroue se prestasies te spog en hulle te vereer.
Die toekenningsgeselligheid vind vanjaar op 3 Oktober by Monte Bello buite Bloemfontein plaas.
Vanes-Mari du Toit, die voormalige Protea-netbalspeler, is die gasvrou terwyl die oudskeidsregter in die Springbokke se bestuurspan Jaco Peyper as gasspreker sal optree.
Die geleentheid vind in samewerking met Sentraal24 en KovsieSport van die Universiteit van die Vrystaat (UV) plaas.
Sportsterre van skole- tot senior vlak kan in aanmerking kom om in een van die talle afdelings as ’n wenner weg te stap, en boonop om vir hul harde werk, doelgerigtheid en prestasie geprys te word.
Hou Sentraal24 se gemeenskapskoerante in die Vrystaat – BloemNuus, BloemExpress, Vista en VrystaatKroon – dop vir meer inligting oor vanjaar se benoemings en ander besonderhede oor die aand.
- Die glansaand se verrigtinge begin om 18:00 vir 18:30.
Die kaartjies kos R460 vir ’n enkelkaartjie, of R4 600 vir ’n tafel met sitplek vir tien gaste.
Om te bespreek of om meer inligting te bekom, bel Ainslee Oosthuyen by 074-120-4450.