Spronge in tegnologie kan nie menswees stuit

Enkele jare gelede het toekomskundiges by konferensies nog gepraat van die “Vierde Industriële Rewolusie.” Melding is gemaak van robotte, kunsmatige intelligensie (KI), die 3D-druk van organe, bewaring van plasenta vir stamselle, en die Internet van


Enkele jare gelede het toekomskundiges by konferensies nog gepraat van die “Vierde Industriële Rewolusie.” Melding is gemaak van robotte, kunsmatige intelligensie (KI), die 3D-druk van organe, bewaring van plasenta vir stamselle, en die Internet van Dinge. Globalisering, (danksy die internet), emigrasie en aanlyn-gemeenskappe was reeds tasbare neigings.

Toe kom Covid.

En die groot versnelling neem eksponensieel toe. Hibriede werksplekke, Zoom- en Teams-vergaderings, vals nuus, en ’n digitale kantelpunt in media publikasies. Intussen het die Suid-Afrikaanse regering aanhou tjommel met vrotsige dienslewering, ekonomiese uitmergeling en beurtkrag.

Ongelukkig is Bloemfontein een van die vrotste, verrottende voorbeelde. Hier doen ons balanseertoertjies tussen ’n oorlewingstryd en innoverings-uitdagings.

Toe kom ChatGPT.

Selfs Luddiete het kom vertel van wat hulle met ChatGPT doen. En as jy ’n kenniswerker is, maak dit jou bewerig. Hierdie nuwe KI skryf nie alleen gedigte, blogs, resepte, dramas, romans, briewe (dink aan iets wat jy kan vra en die bot produseer ’n antwoord) nie, dit doen ook sommer navorsing en verbeter voortdurend. Kenniswerkers begin wonder of hulle nie ’n ambag moes volg nie. Mense het immers steeds nodig dat infrastruktuur soos water, elektrisiteit en herstelwerk nog gedoen moet word. Dit is die terreine waar die regering en munisipale dienste in duie gestort het, waar geleenthede ontstaan. So, dit is die mense wat hierdie geleenthede aangryp wat die toekoms gaan skep eerder as hulpeloos afwag. Dalk is Bloemfontein se verval sy redding?

Die afgelope week is daar ’n buurtwaggroep wat ’n mark reël. Geld word ingesamel vir die buurt se behoeftes en geleenthede word aan entrepreneurs gebied om produkte te maak en te verkoop. Ander entrepreneurs gebruik werklose mense om ons strate skoon te hou en vullis te verwyder – en inwoners is bereid om te betaal vir hierdie dienste want dit is betroubaar.

Ek gesels met ’n elektrisiën wat nie kan voorbly met die opsit van sonpanele nie. En ja, vir die kenniswerkers is dié goeie nuus dat jy dalk nie KI as kompetisie moet beskou nie, eerder as ’n vennoot.

So, ja.

Bloemfontein is ’n goeie plek om in te woon want dit bly steeds sentraal in Suid-Afrika en dus maklik bereikbaar. Die stad het warm somers en hoewel die wintersnagte koud is, is die dae gematig. Ons het ’n wonderlike kultuurgeskiedenis, met wêreldklas-kunsgallerye en museums. Ons misdaadsyfer is laag teenoor ander groot stede in Suid-Afrika, en ons het uitstekende skole en universiteite.

Ek weet nie of jy met die vorige paragraaf saamstem nie, maar dit is wat ChatGPT van Bloemfontein sê. Gelukkig was die antwoord in Nederlands en kon ek die bot meer as ’n spanmaat as kompetisie behou. En dit is wat ek vandag wil deel: Die volgende industriële rewolusie is hier, dit gaan nie oor rekenaars, genetika, drukkers en stamselle nie – dit gaan oor ons vermoë om saam te werk.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.