Die adjunkminister van water en sanitasie, David Mahlobo, het daarop aangedring om dadelik te gaan kyk waar die riool in die Renosterspruit vloei toe hy Bloemfontein Maandag (18/07) as deel van ’n nasionale veldtog besoek het.
Hy was deel van ’n groep van verskillende belanghebbendes by ’n opruimingsprojek om op Mandeladag die omgewing langs die Renosterspruit, wat onderdeur Meadows-straat vloei, skoon te maak.
Die Vrystaatse departement van water en sanitasie, saam met Bloemwater, die Mangaung-metro, Coca-Cola Beverages Suid-Afrika en amptenare van die nasionale regering, het hier ingegryp as deel van die nasionale Clear Rivers-veldtog. Dit fokus op gebiede waar ’n rivier naby ’n gemeenskap vloei en besoedeling van hierdie waterbron ’n groot probleem is.
Die kanaal wat al langs Meadows-straat tussen Grasslands en Bergman-plein strek, is tot oorlopens toe vol vullis.
Larry Crisp, woordvoerder vir die departement van water en sanitasie, sê terwyl die groep die oggend aan die opruim was, het ’n man oop en bloot sy vullis hier langs die rivier kom gooi.
“Mense moenie vullis naby ’n rivier stort nie, omdat dit water besoedel en ’n gevaar vir die volgende gemeenskap waarlangs die rivier vloei, inhou,” sê hy.
Kido Thoabala, woordvoerder vir Bloemwater, sê die riool in die spruit veroorsaak dat meer geld aan chemikalië bestee moet word om die water te suiwer.
Rossouw Botes, DA-raadslid, sê die riool wat in die Renoster- en Bloemspruit vloei, is die gevolg van die metro se rioolstelsel wat nie behoorlik werk nie.
“Die laaste keer dat die rioolstelsel deur sleepspanne skoongemaak is, was in 2008. Van die 13 rioolaanlegte in die metro is daar nie een wat 100% werk nie.”
Hy sê dit lei daartoe dat riool oral in die stad in spruite beland en die besoedelde water na damme soos Krugersdrift en Mockesdam vloei.
Rossouw sê al Soutpan se water kom uit die Modderrivierstelsel, wat erg besoedel is.
Hy sê daar is ook ’n deel van dié stelsel wat na Mockesdam en uiteindelik na die Maselspoortsuiwersingsaanleg vloei.
Hy meen dit is skokkend dat die metro se rioolstelsel so ver agteruit gegaan het.
“Ons wag vir die verslag van die stad se bloudruppel- en groendruppelstatus.”
DA-raadslid Mokgadi Kganakga sê die massas rommel wat in die spruite beland sou vermy kon word as daar behoorlike siwwe was wat gereeld skoongemaak word.
Nog ’n groot probleem is Roodewal se rioolplaas wat riool in die Renosterspruit laat vloei. Inwoners van dié hoewegebied het ’n groot las van dié stink, vuil water – veral wanneer dit ’n ruk lank nie gereën het nie.
Kganakga sê ook die massas vullis in woonbuurte skep ’n groot omgewingsgevaar.
“Die Mangaung-metro pleeg ‘watermisdaad’ deur die pomp van riool in die Renosterspruit en skep só ernstige bewaringsmisdade met hierdie optrede,” sê Kganakga.
Sy sê die metro oortree nasionale wette deur toe te laat dat riool in die Renosterspruit beland. Dit is onaangenaam vir inwoners en skep onhigiëniese toestande.