Joshua is die eerste leerling van dié seunsskool in Bloemfontein wat aangewys word as Matrikulant van die Jaar.
Dié beskeie leerling, ’n prefek wat in sy rekordeksamen ’n gemiddelde punt van net onder die 94% behaal het, glo ’n mens werk hard en mik vir die maan.
Die 14 topmatrieks het van Dinsdag (04/10) by die Monte Bello-landgoed byeengekom vir die eindronde waar onderhoude en groepsessies met almal gehou is.
’n Gala-dinee waarop die 14 finaliste voorgestel is en die wenner aangekondig is, is Woensdag (05/10) ook hier gehou.
Die ander topmatrieks is Veliswa Black (Hoërskool Bloemfontein), Lourens van Niekerk (Hoërskool Jim Fouché), Mia Coetzee (Hoërskool Sentraal), Jordan Goodman (Hoërskool Bloemfontein), Didi Nel (Hoër Meisieskool Oranje), Amy Jacobs, Niël Arlow, Dawie Botes (al drie van die (Hoërskool Fichardtpark). Omphile Choane (Welkom High School), Chrisna Roelofse (Hoër Landbouskool Jacobsdal), Thomas Olivier (Hoërskool Middelburg in die Oos-Kaap), Onhatile Thaga (Hoërskool Upington) en Franke du Plooy (Langenhoven-gimnasium in Oudtshoorn).
’n Beskeie Joshua het ná die geselligheid gesê hy is oorbluf oor sy aanwysing as Matrikulant van die Jaar.
“Ek voel so geëerd en trots,” het hy gesê
“Dit was ’n wonderlike twee dae en alles was baie goed gereël.”
Joshua sê hy werk hard en hoop om onderskeidings in al sewe sy vakke in die matriek-eindeksamen te behaal.
Hy beplan volgende jaar te begin met sy studies by die UV om hom as geoktrooieerde rekenmeester te bekwaam.
Linda Greyling, mede-organiseerder van die kompetisie van Studentewerwingsdienste aan die UV, sê al 14 finaliste voldoen aan al die vereistes van akademiese, sport- en kultuurprestasie en leierskap.
Talle vennote het pryse vir die finaliste en wenner geborg.
Die wenner ontvang R25 000 prysgeld ná registrasie in 2023 en ’n studiebeurs van R12 000.
Die Vonkelpersoonlikheid, toegeken aan Thomas, het ’n rekernaartas op wiele ontvang.
Die sport- en kultuur-wenners het elk prysgeld van R5 000 van Kovsie Alumni-trust elk gewen. Onthatile is aangewys as die matrikulant met die beste kultuurprestasies en Amy vir beste sportprestasie.
Ander pryse sluit in:
- R12 000 prysgeld ná registrasie volgende jaar.
- ’n Studiebeurs van R7 500 van Kovsies
- ’n Mikrogolfoond en R500-koopbewys van Pick n Pay Preller Walk
- Ander geskenke van die borge.