Staal jou vir die suiwerste soort georganiseerde chaos

Die tyd vir skoolkonserte het aangebreek.


Die tyd vir skoolkonserte het aangebreek.

Weke lank, dag ná dag, terwyl mammas en pappas tuis of by die werk was, is kinders aangetrek en opgetof, in bondeltjies verdeel of in troppies gejaag en in rye op die verhoog gelei – en daardie opvoerings is ingeoefen.

Met ’n bietjie vindingrykheid is foelie, karton en flitsligte in uitrustings vir ’n maanreis omskep. Wit lakens het engel­klere geword, meters tinsel is nou stralekranse, leeus pronk met tutu’s as maanhare en gesigverf ken geen perke nie.

Ouers wie se kinders al groot genoeg is om iets oor die konsert te kan vertel, raak tevergeefs skoon kriewelrig van nuuskierigheid, maar kry nie ’n woord of ’n enkele danspassie uit dié klompie wat so tot geheimhouding gesweer is nie. Dié wie se kinders nog te klein is vir vertel, kan in elk geval nie hul lag hou van al dié opwinding nie.

Almal berei hulle daarom maar op hul eie manier vir die besigheid voor. Die kinders oefen, terwyl die ouers die omsendbriefie oor die koste vir konsertklere kry – en hul asem skerp intrek. Die kinders oefen, terwyl die ouers die briefie oor die kaartjiegeld kry – en hik. Die kinders oefen, terwyl die ouers die briefie kry met aanwysings vir hoe die hare en grimering, en wat nog alles, moet lyk en hoe laat die kinders reeds gereed moet staan – en dan maak hulle maar ewe gedwee só.

Dan, selfs met al die voor­bereiding in die wêreld, is ’n skoolkonsert van geen rampspoed gevrywaar nie.

Klein lyfies sal uit pure verbasing stokstyf en sonder al daardie ingeoefende bewegings gaan stilstaan; want waar kom al die mense dan nou vandaan, hulle het dié nog altyd net saam met Juffrou gedoen?

Woorde en bewegings sál vergeet word. Maskers sal oor oë afskuif, en kopgoed sal afval en oor en oor opgetel word.

Die spulletjie sal koers kies en die versigtige choreografie waaraan Juffrou al maande lank beplan, in ’n oomblik beduiwel.

Iemand sal ’n maatjie se hakke op die trappies na die verhoog raaktrap, die cheetah sal die sebra se stert raakdans en so byna afruk, die groot skoolbus van karton sal ampertjies omval voordat ’n flinke assistent asof uit nêrens ’n hand daarop kry.

Die verkeerde musiek gaan waarskynlik ten minste een keer uit sy beurt begin speel.

Oumas en oupas en ooms en tannies en niggies en nefies en nabye én verlangse vriende het elkeen ’n kaartjie, en hulle sal aangetree word as daardie span bekende gesigte in die gehoor. Hulle moet grootoog maak en waai en soentjies blaas en saamsing en klap, al hoe harder, presies teenoorgesteld eweredig aan hoe verskrik en stil die outjies op die verhoog word.

’n Skoolvriendin laat weet nou die dag met ’n foto uit die Kaap: Kyk net, boetie was ’n waterskilpad vir sy eerste konsert by die skooltjie. ’n Lyfie van nog nie eens ’n jaar oud nie in ’n groen kruippakkie, kompleet met ’n dop op die rug. Met ’n gesig wat straal oor hierdie lawwe opwinding waaroor grootmense so onverklaarbaar gaande raak.

Oor skaars tien jaar wil hy dalk ’n Ninja Turtle wees, Mamma, en oor nóg tien jaar daarna skaam hy hom dood oor daardie heel eerste konsertklere.

’n Ouerhart kan terselfdertyd swel én inkrimp. Die trots oor ’n grootseun of -meisiekind en die benoudheid oor die tyd wat só kan vlieg, loop hand aan hand in die lewenspad af.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.