’n Splinternuwe inisiatief om te help om hoop terug te bring na die Suid-Afrikaanse platteland, is vandag op ’n geselligheid deur OVK in Bloemfontein bekend gestel.
Stéfan Oberholzer, die uitvoerende hoof van OVK, sê daar word baie gepraat oor die verval van die platteland.
“Die vraag is, hoe red ons die platteland? Die platteland verseker vir ons voedselsekerheid. Alles is moontlik, maar dan moet elkeen sy deel doen. Ons moet saamstaan om die platteland op te hef.”
Oberholzer sê OVK bestee meer as R3 miljoen om onder meer skole in die platteland te ondersteun en veiligheid te verbeter deur byvoorbeeld CCTV-kameras op te rig.
“ ’n Mens kan aan plekke soos tennisbane, rolbalbane, gholfbane en ouetehuise sien hoe dit met ’n dorp gaan”
Nou is daar besluit om ondernemings en die groter gemeenskap te betrek om hande te vat om die platteland te herbou.
Christel Basson, bemarkingsbestuurder van OVK, sê die projek Lief Platteland ( ♥platteland) is ’n bewusmakingsveldtog. “Ons nooi organisasies uit om met allerlei praktiese idees te kom om te help om die platteland ekonomies te ondersteun en te verbeter. Ons wil met ♥platteland waarde toevoeg tot die platteland. Ons kan nie meer op munisipaliteite staatmaak om dorpe op te hef nie, elkeen moet sy deel doen om ’n bydra te maak. Ons wil met ♥platteland ’n platvorm skep vir ’n verskeidenheid projekte.”
Voorbeelde van wat organisasies soos ondernemings en verenigings kan doen, is om asdromme te skenk en in ’n dorp op te rig, boeke vir biblioteke te skenk of enigiets wat waarde sal toevoeg. “Ons vra mense om te help om weer positief te raak oor die platteland en die verval teë te werk.”
Oberholzer sê die einddoel is om die ekonomie in die platteland te stimuleer met betrokkenheid. “Die nood in die platteland is groot, maar daar is soveel moontlikhede, soos toerisme. Kom ons ondersteun die platteland met ♥platteland.”
Mense wat betrokke wil raak by ♥platteland, kan ’n e-pos stuur na christelb@ovk.co.za.