’n Reuse-optrede uit die gemeenskap het gevolg op die berig in BloemNuus van 15 Augustus oor die verwoesting by die Arthur Nathan-swembad, waar mense onwettig gebly het en die geskiedkundige gebou stuk-vir-stuk weggedra het.
Nadat misdaad maande lank hier hoogty gevier het, het private veiligheidsmaatskappye, in samewerking met die polisie en Mangaung se metropolisie, op Donderdag 22 Augustus ’n klopjag gedoen en al die onwettige inwoners daar verwyder.
Nadat ’n man op 12 Augustus hier betrap is dat hy elektriese kabels steel, is daar Donderdag weer mans aangekeer en deur die polisie in hegtenis geneem.
Dit kom nadat die mans ’n geut wat van die Arthur Nathan-gebou verwyder is in ’n winkelwaentjie in Fichardtstraat in die Bloemfonteinse middestad gestoot het. Johan van der Linde van Bloemsec, wat op die mans afgekom het, sê kapt. Zolile Sinqaba van die Parkweg-polisie was baie behulpsaam om die verdagtes te help aankeer en in hegtenis te neem.
Verlede week het Riana van Niekerk en haar span van We Love Bloem die reuse-taak gepak om die hope vullis op die terrein bymekaar te maak en op te ruim.
Sy sê selfs terwyl hulle daar gewerk het, het van die besetters een van hul sae probeer steel.
Teboho Mohlabi, waarnemende assistentbestuurder van die Mangaung-metro, het Donderdag gesê almal wat onwettig op die perseel woon, gaan verwyder word.
Pandjieswinkels en skrootwerwe gaan ook op gereelde grondslag besoek word om gesteelde materiaal terug te kry.
Mohlabi sê juis omdat die gebou hier so oud is, is die materiaal uniek en kan dit makliker opgespoor word.
Intussen is die heining om die swembad, wat deur die besetters verniel is om toegang te verkry, herstel – en daar is ook roldraad in die heining in Unielaan aangebring om toegang tot die perseel te keer.
BloemNuus het navraag by die Mangaung-metro gedoen oor die toekoms van die swembadkompleks, maar teen druktyd geen terugvoering gekry nie.
- Die Arthur Nathan-swembad, wat uit 1906 dateer, is op 22 September 1995 in die staatskoerant as ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar en moet daarvolgens bewaar word.
Die verval van die swembad kom oor baie jare, voordat dit die middelpunt van misdadige bedrywighede in die omgewing geword het.
Anneke Anker, stigter van die Bloemfontein Woonbuurtvereniging-groep (BNAG) en voorsitter van die Gemeenskaps-polisiëringsforum vir sektor 2, sê sy het die afgelope maande talle klagtes van inwoners gekry en dringende ingryping was nodig.