Altesaam 15 opgewonde spanne het op 24 September om 08:00 weggespring om Bloemfontein in hul eie Amazing Race te deurkruis.
Gateway Fellowship het vanjaar sy tweede Amazing Race aangebied, met spanne wat verskillende leidrade moes volg en take moes verrig.
Een van die leidrade, om na die Franklin-natuurreservaat te gaan, het deelnemers in Bloemnuusvan 22 September gekry. Die spanne het daar rommel opgetel en voer vir die wild in die reservaat gaan uitsit.
By Villa Avianto het die spanne croissants gemaak, wat hulle aan hospies-werkers oorhandig het om hulle te bedank vir die werk wat hulle doen.
Die spanne het ook hondekos aan die dierereddingsorganisasie Huistoe geskenk.
Een van die lekker uitdagings was ’n hindernisbaan wat spanne moes voltooi.
Hulle moes verder onder meer verskeie alternatiewe vorme van kommunikasie beproef, soos om iets uit braille te vertaal, iets in gebaretaal te sê en met kortafstandradio’s met spanmaats te kommunikeer.
Die wenspan was Parkin, en Super 7 was in die tweede plek.