Lede van Nehawu staak Donderdag (09/03) by Universitas- Akademiese Hospitaal. Foto: Lientjie Mentz


Smile-week wat lewensveranderende operasies op kinders en kleuters moontlik maak, moes uitgestel word weens die National Education, Health and Allied Workers’ Union (Nehawu) se staking by staatshospitale oor die land heen.

Dié week sou van 13 tot 17 Maart by die Universitas- Akademiese Hospitaal plaasvind.

Die staking het Maandag 6 Maart begin nadat samesprekings tussen Nehawu en die regering oor salarisverhogings ’n dooiepunt bereik het.

Die regering het aanvanklik ’n salarisverhoging van 3% aangebied waarmee Nehawu nie tevrede is nie. Nehawu sê onder meer dat die gemiddelde inflasiekoers vir 2022/23 byna 7% is. Sporadiese protesaksies het verlede week by al drie nasionale hospitale in Bloemfontein, wat ook Pelonomi- en Nasionale Hospitaal insluit, plaasgevind en Nehawu het aangekondig dat dit vandag (13/03) voortgaan met die staking.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse departement van gesondheid, het vandag laat weet dat gesondheidwerkers wat in dié hospitale werk, geïntimideer word.

Hy sê matrones het by die hospitale omgegaan om toe te sien dat daar genoeg verpleegkundiges in elke saal is.

“By Pelonomi het vakbondverteenwoordigers omgegaan en verpleegkundiges aan diens te probeer werf om aan die staking deel te neem.”

Hy sê die departement word bemoedig deur die dapperheid en deursettingsvermoë van sommige verpleegkundiges, kombuispersoneel, skoonmakers en veiligheidsbeamptes wat saam met dokters ’n diens aan pasiënte verskaf.

Mvambi sê werknemers moet die interdik teen die staking nakom en dat gesondheidswerkers die vryheid gegun moet word om te werk, veilig te wees, kos en waardigheid aan pasiënte te gee en mense moet toelaat om toegang te hê tot gesondheidsdienste.

Hy sê die Universitas-hospitaal was vanoggend kalm met min werknemers wat afwesig was.

Mvambi sê ook daar was vanmiddag om 14:00 ’n vals alarm van ’n brand by die linnestoor by Pelonomi. Die brandweer is ontbied. “Daar was wel op 6 Maart ’n brand hier, maar dit is nie aangemeld nie. Daar is vandag geen brand by Pelonomi nie. Ons vermoed dit is ’n poets wat daarop gemik is om net meer verwarring en paniek te veroorsaak soos dit die heel tyd gedurende die staking gebeur het,” sê Mvambi.

You need to be Logged In to leave a comment.