Is jy lief daarvoor om in die natuur te stap?
Dan is uitstappies van die Bloemfontein-voetslaanklub dalk net wat jy vanjaar op jou doen-lysie moet plaas.
Die klub gaan in die eerste helfte van die jaar sommer gereeld naweek- en dagstaptogte onderneem.
Die eerste naweekstap is van 25 tot 27 Februarie in die Uithoek-natuurreservaat by Fouriesburg.
Dan volg die Meiringskloof-voetslaanroete van 4 tot 6 Maart, ook by Fouriesburg.
Die naweek van 18 tot 21 Maart gaan lede by Vergezient naby Bergville stap.
Dié staproete bied ’n ongelooflike mooi uitsig oor die Drakensberg- en Malutiberge.
Die naweek van 1 tot 3 April gaan klublede dagstappe onderneem in die Golden Gate- Nasionale Park by Clarens.
Van 6 tot 7 Mei gaan lede die Sporekrans-staproete by Rosendal stap. Dit is twee dagstappe.
Nog ’n lekker uitstappie wat voorlê, is die naweekstap by Thaba Thabo in de Witteberg by Ficksburg.
Die laaste een vir die eerste helfte van die jaar is twee dagstappe op die Eingedi-plaas by Ladybrand.
Dagstappe word gereeld op Saterdae onderneem met die volgende een wat Saterdag (12/02) op Naval Hill aangebied word.
Rig navrae oor deelname aan die klub se aktiwiteite by Nelia Venter by 082-460-6326 of stuur ’n e-pos na ventern@cut.ac.za.