Plek is nog beskikbaar vir stappers wat van 5 tot 13 Maart die Stargazing-camino, ’n 108 km-staproete tussen Sutherland en Merweville in die Noord-Kaap, wil aandurf om geld in te samel vir gemeenskappe wat weens die droogte ly.

Esté van der Merwe, bemarkingsbestuurder van Caritas-gemeenskapsfokus in Kimberley, gaan deelneem. Sy sê hulle gaan dié keer die veldtog van die sinode van Wes-Kaapland se barmhartigheids­diensgroep, Diaconia, en die ring van Beaufort-Wes ondersteun.

Die mikpunt is om ’n minimum van R600 000 in te samel.

Die geld sal met oorleg in die betrokke gemeenskappe verdeel word, in samewerking met plaaslike gemeentes van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK).

Die staptog kom nadat Caritas-gemeenskapsfokus die afgelope jare twee staptogte, in die Tankwa-Karoo en die Boesmanland in die Noord-Kaap, gereël het om ’n bewustheid van die droogte-nood te skep.

“My man, Johan, en twee van ons ondersteuners, Ezbe Jansen van Rensburg en André Rose, stap saam. Daar is net plek vir 20 stappers. Ons sal gemiddeld 18 km per dag oor die ses dae stap en in plaashuise oornag.

“In 2021 het 12 stappers van Caritas-gemeenskapsfokus saam met Amore Bekker die Boesmanland-camino aangedurf, ten bate van die Red ’n Plaas-projek.”

Twee ondersteuningsvoertuie sal stappers vergesel en bagasie vervoer.

Aandete en drie koffie-blaaskanse (met beskuit soggens) word daagliks verskaf.

Saans sal die omgewing se unieke landskap en hemelruim onder leiding van gesoute kenners verken word.

Dit kos R5 900 per stapper. Buitelug-geesdriftiges en ywerige sterrekykers word aangemoedig om hulle in te skryf.

Rig navrae deur ’n e-pos na diaconia@kaapkerk.co.za te stuur. Besprekings sluit op Maandag 28 Februarie.

You need to be Logged In to leave a comment.