Bloemfonteiner Zarine Roodt het die Camino Portugués-staproete reeds drie keer gestap; een keer te voet, die tweede keer terwyl sy daaroor geskryf het, en die derde keer was die sielkundige reis na binne, die reis wat begin wanneer die Camino eindig.

Roodt, ’n skrywer, Jungiaanse volgeling en retraite-aanbieder, sê dié uitdaging was haar 60ste verjaardaggeskenk aan haarself. Maar sy het vir geen enkele oomblik gedink dit sal “loshande die moeilikste ding wees” wat sy in haar hele lewe al aangepak het nie.

Om ’n boek oor die avontuur te skryf was glad nie in haar gedagtes nie, maar ná die uitsonderlike ervaring en bowenal die psigiese gewaarwordinge, moes sy dit eenvoudig dokumenteer.

Die resultaat is ’n Dagreis ver, wat nou in boekwinkels is.

Roodt se avontuur is voorafgegaan deur drie maande van voorbereiding wat op die omkeer van ’n “lewenslange patroon van fisieke onaktiwiteit” gemik was.

Dit het goed verloop en sy was in haar skik, maar die werklikheid was ’n skok.

Die Camino was nie die salige spirituele ervaring soos sy haar dit voorgestel het nie.

“Ná die tweede dag was ek so gedaan dat ek besluit het dis die einde. Dit is nie vir my fisiek moontlik om so ’n reis aan te pak nie, en boonop met ’n rugsak.

“Ek het gaan slaap en die volgende dag opgestaan en voortgestrompel. Hoe, weet ek nie regtig nie. Dit was nie ’n wilsbesluit nie, dit het net gebeur.”

Maklik was dit steeds nie; elke tree was ’n stryd.

“Die eerste twee weke was ek byna dood en eers daarna het ek gevoel ek begin fiks word vir die reis.”

’n Aspek wat ekstra kilometers bygevoeg en die swaarkry vererger het, is Roodt se ingebore rigtingloosheid.

“Ek het die roete so byster geraak dat ek letterlik berge misgestap het; ek het in vreemde plekke geslaap en in die eerste week in ’n kampterrein beland, van waar ’n engel van ’n vrou my die volgende dag met haar motor na die roete teruggeneem het.

“My beplanning was om geen oornagverblyf vooraf te bespreek nie. Ek sou slaap waar ek kom, wat lynreg teen my geaardheid is. Ek is ’n uiters gestruktureerde mens.

“Dit was ook die eerste keer dat ek my liggaam uitgedaag het. Ek het byvoorbeeld nie geweet dit is moontlik om ’n dag lank met ’n rugsak te stap nie.”

Ondanks die aanvanklike uitdaging het die tog in die laaste twee weke vir haar in ’n onvergeetlike avontuur verander.

Ná haar terugkeer huis toe het die lewe eensklaps psigiese woelinge ontketen. Haar ma het ’n beroerte gehad, hulle moes haar na Bloemfontein verskuif en sy het ’n jaar later gesterf.

Roodt se 60ste verjaardag het ook aan haar gekrap.

“Wat is die nut van die lewe ná 60? Hoe moet ek dit hanteer? Wat gee betekenis aan my lewe? As jy jonk is, bestuur die ego jou lewe. En nou?”

Dié vraag hou haar steeds besig, hoewel die 18 maande wat sy aan die manuskrip van die boek geskryf en geskaaf het, groot bevrediging gebring het.

“Ek weet ek maak die lewe in ’n sin moeilik vir myself omdat ek soekend bly, maar ek is nie spyt daaroor nie. Droomwerk, die bou en stap van labirinte en die aanbieding van werksessies en retraites vorm ’n wonderlike kombinasie en gee sin aan my lewe.”

You need to be Logged In to leave a comment.