Die toergroep van BT Football tydens die Donostia-sokkerbeker in Spanje. Van hierdie spelers is nou in Portugal gestrand na dit aan die lig gekom het daar is geen vliegtuigkaartjies vir hul terugkeer nie.

‘n Groep ouers wat duisende rande vir ‘n sokkertoer na Portugal ingesamel het moes die afgelope week hoor daar is nie geld om hul kinders terug huis toe te bring nie.

Nou is talle talentvolle sokkerspelers, waar onder jong Stellenbossers, gestrand gelaat in Lissabon en Brandon Timmy, wat die toer georganiseer het, kan nie sê wanneer die kinders ‘n vlug huis toe sal kry nie.

Timmy is die stigter van die Belmount Spur-sokkerklub, BT Football en BT Travel. Jaarliks stuur Timmy en BT Football plaaslike sokkersterre na Portugal in die hoop dat die jong spelers die aandag van internasionale sokkerklubs sal trek om hopelik ‘n plek in ‘n internasionale span te kry.

Mary-Anne Van der Heever se kleinseun Michael Dominee is onder die groep spelers wat gestrand is na afloop van die Donosti-beker in San Sebastian, Spanje. Dié kompetisie was vanaf 7 tot 13 Julie aangebied met meer 900 spelers wat deelgeneem het.

“Aanvanklik is Michael gekies vir die akadamie-groep wat September oorsee sou reis, maar toe kom die geleentheid om deel van die kompetisie te wees. Die idee was die spelers sou meer blootstelling by die toernooi kry,” verduidelik die ouma.

Van der Heever se dogter en talle ander ouers het egter verlede week van Timmy gehoor daar is nie genoeg geld om vliegtuigkaartjies vir die spelers te koop om terug na Suid-Afrika te keer nie. Die kaartjies was “te duur”. Timmy, wat nie saam oorsee gereis het nie, het glo vir die ouers gevra om ‘n addisionele R15 000 in te betaal. Dit nadat elke speler reeds R48 500 moes betaal om deel van die toergroep te wees.

“Ten spyte van die addisionele geld is daar geen antwoord oor wanneer Michael en die kinders op ‘n vliegtuig sal klim nie. Sommige van die 34 kinders van die toergroep is reeds terug, maar die res nie. Ons eerste proriteit is om al die kinders terug te kry,” se Van der Heever. Stellenbosser Gavin Jaar, wie se 13-jarige seun onder die gestrande groep is, meen die grootste probleem is dat Timmy geen duidelik antwoorde bied nie. “Hy het van ons individueel begin kontak oor die addisionele geld wat nodig is vir die vliegtuigkaartjies. Ek het vir hom gesê hy moet een keer met al die ouers praat, dit was juis hoekom ons ‘n Whatsapp-groep begin het, sodat ons almal weet wat aan die gang is. Almal is ook nie finansieel instaat om ‘n addisionele geld te betaal nie. Baie moes reeds lenings uithaal net om die toergeld te dek,” sê Jaar.

Jaar het onlangs met sy seun gepraat en hoewel almal uitgeput is, is maaltye verskaf danksy afrigters wat nou onkoste vanuit hul eie sakke dek.

Die ouers het intussen na die nasionale minister van sport en kultuursake uitgereik in die hoop dat Gayton McKenzie kan help.

Beide Jaar en Van der Heever sê daar was tye wat die gevaarligte afgegaan het oor die toer, maar ouers het hul kinders oorsee gestuur met die vertroue dat Timmy en die span afrigters vir hulle sal sorg.

Eikestadnuus het na Timmy uitgereik vir kommentaar oor die situasie, maar het teen druktyd geen antwoorde ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.