Die langverwagte strafpuntstelsel vir verkeersoortredings sal blykbaar teen Julie ten volle in werking tree, hoewel kenners meen dat die regering te ver agter is om dit betyds te bekragtig.
Die omstrede Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings (Aarto) het amptelik op 1 Januarie in al die geoormerkte munisipaliteite van die land in werking getree.
Dié wet was langer as ’n dekade slegs op bestuurders in die Johannesburg- en Tshwane-metro van krag.
Met fase 3 wat nou in werking gestel is, is al die oorblywende 144 munisipaliteite, wat nie deel was van die 67 munisipaliteite waarop in fase 2 toegespits is nie, nou onderhewig aan die wet.
Tog sal bestuurders nog nie in hierdie munisipaliteite ingevolge die Aarto-wet vervolg word nie.
Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) verduidelik dat die Wysigingswetsontwerp oor Aarto, wat verskeie veranderinge aan die meer as twee dekade oue wet bring, ook nog nie bekragtig is nie.
Al is die wetgewing gepubliseer en deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken, is geen datum nog vir die inwerkingstelling daarvan gepubliseer nie.
Volgens Outa is die implementering van Aarto tot dusver nog net om munisipaliteite voor te berei daarop om op die stelsel te kom, en rekenaars te verskaf waar nodig.
Aarto is dus in werking, maar nie bekragtig nie.
Dit beteken ook dat bestuurders nog nie aan die wet se omstrede strafpuntstelsel onderwerp word nie.
Dié stap wag nog op die aanstelling van die problematiese tribunaal wat alle appèlaansoeke teen verkeersoortredings sal verwerk.
Dit is omdat die Aarto-wet motoriste ontneem van hul reg om hul oortreding in die hof te beveg.
Die tribunaal, wat uit slegs nege mense sal bestaan, is veronderstel om alle appèlaansoeke nasionaal te verwerk.
Stefanie Fick, uitvoerende direkteur van Outa se afdeling vir aanspreeklikheid, sê die tribunaal sal nooit soveel aansoeke kan verwerk nie.
Outa wil hê die ganse wet moet geskrap word.|– William Horne