Loslitdag is om die draai, en een van die Bloemfonteinse instansies wat voordeel uit dié nasionale geldinsamelingsprojek trek, is die Tswellang Spesiale Skool.
Tswellang het op 28 Julie ’n geleentheid aangebied waarop borge en ondersteuners van die skool bedank is en besoekers die klasse kon besoek.
Die skool is vir leerlinge met ’n verskeidenheid fisieke gestremdhede ingerig, en het 278 leerlinge. Die 92 koshuisleerlinge kom van oor die hele Vrystaat heen om hier skool te gaan. Die skool bied vervoer aan 137 leerlinge, wat 44 van Botshabelo insluit. Talle van die skool se leerlinge is van rolstoele en ander ondersteunende toestelle afhanklik.
Verna Vorster, hoof, sê een van die uitdagings van die skool is om leerlinge se rolstoele veilig by die skool te bêre wanneer kinders by die huis is.
“Dit is makliker as kinders ’n rolstoel by die huis én een by die skool het. Ons benodig egter bêreplek, soos ’n vraghouer om die rolstoele daagliks te berg,” het sy op die geselligheid gesê.
Ondernemings wat die skool wil ondersteun deur plakkers vir Loslitdag, op Vrydag 2 September, teen R20 elk aan werknemers te verkoop, kan Johan Grobbelaar by 072-680-2953 bel.