Die naweek se afskeid lê steeds vlak in my hart en my stap.
Vroegoggendkuiers oor rooibostee en anysbeskuit, die droogwaai van jonkwees-klere op die wasgoeddraad, die uitbundige lag wat klim uit elke kamerhoek, is kortgeknip met ’n laaste vryf oor die wang, ’n briefie in haar jas se sak en ’n groet sonder woorde voordat sy op die aandster klim.
Agt dae vantevore het my jongste, daisy-sak oor die skouer, hare kort geskeer en onvoorspelbaar pienk, by die aankomssaal in Johannesburg ingewaai.
Ek het aan my ma gedink.
Vir 14 jaar het sy ook so vir ons gewag. Jaarliks, kort voor Kersfees, het sy en Pa op hul aftreestoep gestaan en kyk na die KL591-ster vanaf Amsterdam, wat ’n wye draai bokant Potchefstroom gooi voordat hy ons om 21:10 in Johannesburg neersit. Ma het altyd vertel sy het sonder twyfel my twee blondekopkinders uit die vliegtuigvenster gesien waai.
Ons het vroegoggend in ’n wegsteekkafeetjie in Rosebank die week beplan. Die besluit om winterson te kom soek in haar huisdorp was impulsief, nes sy.
Doenlys in my handsak, het ons die pad gevat terug Vrystaat toe, gestop vir ’n Wimpy-koffie, en gesels, gesels en gelag.
In Bloemfontein het sy gaan kos afgee vir Hansie en sy hond op die sypaadjie voor die aftreeoord. In Northridge het ek haar hoor lag van winkel tot winkel soos wat sy bekendes groet. Sy het haar pa se Saterdagbraai uitbundig waardeer en mooi gevra vir melkkos op Sondagaand. Vir haar sussie het ons langsteel Afrika-kerse en jellietots op die laaste aand ingepak.
Die afskeid het my ontredderd gelaat. Terug by die huis wou ek vir ’n oomblik trap-op na haar kamer toe, maar vasgesteek voor die skildery in die kombuis.
Stilgesig vrou, kop skuins gedraai om die tarentaal wat op haar skouer sit, in die oë te kyk. En hy vir haar.
Prent sonder woorde, nes ons lughawe-groet. Nes die groet vir 20 jaar lank kort anderkant Kersfees, my broers se laaste vee oor die wang, die niggies wat my kinders, nog vuilvoet van huispaaie draf, skugter drukkies gee.
Nes Pa en Ma vir 14 jaar lank, gejapon en geslipper op die stoep, Pa se bekende wuif vir die aandster wat ons laataand wegneem vir nog ’n jaar.
In haar kamer het ek deur die venster oor die vaal gras gekyk en gedink aan die fynskrif, weggesteek in die hoek van my prent in die kombuis. “I forgive you”.
Ek het aanvanklik gewonder wie vergewe vir wie op daardie doek, maar met verloop van die jare besef, in die hoek van elkeen se lewensreis is daar vergewing weggesteek. Of dit ons is wat die lewe vergewe vir klappe soms onverdiend, of die lewe vir die mens vir ongebruikte vreugde wat hy gratis met ons deel.
Vandag weet ek, iewers verskyn daar altyd weer blydskap soos die weersiens van ’n grootmenskind, wat met pienk hare en ’n sak vol daisies in die aankomssaal in my oopgestrekte arms inwaai.