Stilte ná storm

Daar is steeds enkele mense wat in plakkershuise suid van Lourierpark bly ná die stormloop op Saterdag 2 Maart toe duisende onwettige plakkers hier sinkhuise oprig het.


Daar is steeds enkele mense wat in plakkershuise suid van Lourierpark bly ná die stormloop op Saterdag 2 Maart toe duisende onwettige plakkers hier sinkhuise oprig het.

Dit kom nadat ’n dringende aansoek deur die oorblywende onwettige plakkers om hul verwydering van hier te heroorweeg, op Saterdag 9 Maart in die hooggeregshof in Bloemfontein verwerp is.

Hulle het gevra dat die twee hofbevele van Saterdag 2 Maart en Woensdag 6 Maart heroorweeg moet word.

Kaydene Davids van Volksblad en Netwerk24 skryf adv. Peter Mashihleho het namens die plakkers in sy betooghoofde gesê dat die balju nie die bevel reg uitgevoer het nie en mense in hul voltooide stukture ook verwyder het.

Die balju het op Vrydagoggend 8 Maart vroeg met die hulp van die Rooimiere en die polisie begin om tussen 2 000 en 3 000 plakkers se sinkstrukture en besittings te verwyder.

Intussen het David Mc Kay, DA-raadslid vir wyk 18 waarin die onwettige besetting plaasgevind het, Woensdag gesê daar is nog enkele mense wat strukture onwettig oprig, en hy het reeds die polisie en die metro in kennis gestel dat die mense die wet oortree.

Die ANC se Vrystaatse uitvoerende komitee het Vrydag in ’n nuusverklaring gesê die mense van die Vrystaat het die reg om wettig huise te bou, maar hulle het onwettige grondgrype veroordeel.

Hulle het gesê die Mangaung-metro was binne sy regte om ’n uitsettingsbevel te kry, maar hulle veroordeel dit dat die metro die Rooimiere gekry het om die strukture te verwyder.

Roy Jankielsohn, Vrystaatse leier van die DA en die DA se premiers­kandidaat vir die Vrystaat, sê die provinsie se departement vir menslike nedersettings staan sentraal tot die behuisingstekort in die Vrystaat.

“Die departement is veronderstel om volhoubare behuisingsoplossings te verskaf. Oor die afgelope vyf jaar sedert 2018, moes dié departement al R1 miljard van Nasionale Tesourie teruggee omdat hulle dit nie bestee het nie.”

Jankielsohn sê die provinsie sit met ’n reuse-behuisingskrisis met meer as 770 projekte wat gestaak is en meer as 100 kontrakteurs wat aangestel is sonder kontrakte. Hy sê daar is meer as 11 000 onvoltooide huise oor die Vrystaat heen.

Charles Smith van Volksblad en Netwerk24 berig dat die grondbesetters wat die naweek verwyder is, die skuld voor die ANC se deur lê.

Hy skryf die mense sê die ANC wou hê hulle moet ’n oorlog hier ontketen. Hulle het gesê die ANC en die Mangaung-metro het hulle hier gestrand gelaat en moet hulle hier wegneem na ’n ander, wettige bestemming.

Terwyl die Rooimiere Vrydag die sinkhuise afgebreek en weggery het, het mense in Pellissierrylaan by die kruising met die Jagersfonteinpad saamgedrom.

Hulle het gesê hulle wag om hul name op ’n lys te skryf sodat hulle huise kan kry. Van hulle het gesê dat hulle al sedert 2019 wag en steeds geen huise het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.