Maryna Engelbrecht soos ‘n mens haar dikwels sien: hard aan die werk aan haar volgende serp. Foto: Lientjie Mentz

Almal kan iets vir hul medemens doen.

Maryna Engelbrecht (58), ‘n vrou met ‘n verstandelike inperking wat weekdae in die Vrystaat-nasorgsentrum se AVBOB-afdeling werk, is gaande oor brei.

As jy haar sien, het sy breipenne in die hand en werk sy aan die volgende serp. Dikwels lê daar sommer so vier of vyf serpe waaraan sy brei in haar breisak langs haar.

Vandat sy verlede jaar by haar suster, die musikant Petro Engelbrecht, ingetrek het, het sy al honderde serpe gebrei.

Maryna Engelbrecht (links) oorhandig die serpe wat sy gebrei het aan Nicola du Preez, onderwyser by die Dr. Böhmer-vaardigheidskool. FOTO: Lientjie Mentz

Haar grootste vreugde is wanneer iemand vir haar ‘n bolletjie of tien wol as geskenk gee.

In ruil daarvoor skenk sy haar serpe vir minderbevoorregtes.

Ná ‘n kuiertjie saam met Nicola du Preez, ‘n onderwyser van die Dr. Böhmer-vaardig- heidskool in Januarie vanjaar, het Maryna besluit sy gaan al die serpe wat sy van daardie dag af brei, vir kinders by dié skool gee.

Op Vrydag 20 Junie het Maryna ‘n sak met 41 serpe aan Nicola oorhandig, en Maandag het dié juffrou dit aan kinders by die skool uitgedeel.

“Die serpe is wonderlik.” Met dié woorde het Nicola Vrydag haar dankbaarheid uitgespreek.

“Daar is baie van ons kinders wat ver stap skool toe, en die serpe gaan help teen Bloemfontein se ysige oggende.”

‘n Paar van die leerlinge van Dr. Böhmer-vaardigheidskool maak hulself warm om ‘n kaggel met hul splinternuwe serpe wat deur Maryna Engelbrecht gebrei is, om hul nekke. Hulle is van links: Dazzy Mookgo, Siyabonga Nkone, Bolokwa Mosito, Linathi Buqwana, Hopolang Tihedi en Amoré Coetzee. FOTO: Verskaf

Nicola sê daar is talle behoeftige leerlinge, en die skool bedryf ‘n voedingskema waarin kinders wat dit nodig het, soggens en sommige middae ‘n ete ontvang.

Kos word uit die department se voedingskema en gedeeltelik deur die skool verskaf, uit skenkings uit die gemeenskap en uit die groentetonnel wat by die skool ingerig is vir vars groente.

Maryna werk reeds weer kliphard aan haar volgende skenking kleurryke serpe.

You need to be Logged In to leave a comment.