Storie gryp jou en spoeg jou uit

Dit is ’n aangrypende verhaal vol donker humor wat die verhaal vertel van ’n vrou se stryd met ’n eetverslawing, angs en depressie.


Dit is ’n aangrypende verhaal vol donker humor wat die verhaal vertel van ’n vrou se stryd met ’n eetverslawing, angs en depressie.

Bloemfonteinse debuutskrywer Adele Vorster het Woensdag (22/06) ’n groot getal nuuskieriges na die Protea-boekwinkel by Bloemgate gelok met die bekendstelling van haar boek Tien voor Een. Sy het die roman, uitgegee deur Protea Boeke, as deel van haar Magistergraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) onder leiding van dr. Francois Smith en prof. Henning Pieterse. 

Smith het die gesprek voor ’n stampvol vertrek in die Protea-winkel gelei. Skrywers soos Charné Kemp, Anton Roodt en Deborah Steinmar, wat die boek vir Protea Boeke redigeer het, het ook die geleentheid bygewoon. Kemp was een van haar klasmaats toe hulle die kursus in 2019 en 2020 gevolg het. 

Hoewel Vorster nie gedink het dit gaan 20 jaar neem om die boek, wat reeds in haar voorgraadse studentedae by haar begin spook het, te skryf nie, voel sy dit was nodig om die lang proses deur te gaan. Tien voor Een begin met ’n 40-jarige vrou wat op haar balkon sit en vir haar daaglikse muffin-aflewering van Mr Delivery wag. Soos wat sy wag, begin sy ’n bestekopname van haar lewe neem en dit is waar al die verskillende verhaallyne ontstaan. 

Daar is talle karakters met skuilname in haar boek wat in die regte lewe bestaan, soos die bestuurders van Cheetah Taxis wat haar in die stad rondry omdat sy nie ’n motor of bestuurslisensie het nie. Vorster deel ook die pad wat sy met terapie by dr. Kobus van Zyl, ’n Bloemfonteinse sielkundige, stap. Smith het haar reeds lank gelede, toe sy ’n kortkursus in resensieskryf in Pretoria by hom gedoen het, begin aanmoedig om die meestersgraad te doen. Sy het ’n jaar of twee daaroor geworstel en toe besluit dis tyd om haar storie te vertel.

Sy het dagboek-fragmente ingedien in haar aansoek tot die kursus. Later moes sy tonele byskryf asook SMS’e en e-posse wat ’n liefdesverhaal vertel. Omdat die boek opgedeel is in kort brokkies, lees dit maklik. Dit skep egter intrige omdat die brokkies tussen die teks verskillende dele van die verhaal vertel.“Dit het baie guts gevat om die meestersgraad te doen. Dit is nie ’n maklike kursus nie,” vertel Vorster.Haar klasmaats was haar eerste lesers en het haar voorberei vir die redigeringsproses. Die spertye het haar die nodige stukrag gegee om die boek klaar te maak, het sy gesê. 

Hoewel die kollig en mediadekking deur Woordfees TV, Rapport en Huisgenoot vir Vorster ’n aanpassing is, hoop sy dat Tien voor Een sal vlerke kry en sy eie pad sal stap. Smith sê uiteindelik is dit ’n treffende storie wat jou “gryp en net uitspoeg”.Tien voor Een is beskikbaar by alle boekwinkels. 

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.