Jong lesers en storieliefhebbers kon Vrydag (22/07) uit die perd se bek hoor van nuwe verhale, boelies wat nie soos boelies lyk nie en uit-die-maag lag grappies en vreemde feite.
Jaco Jacobs, bekroonde kinderboekskrywer van Bloemfontein, het sy nuwe boeke, wat reekse en selfs ’n herdrukte boek wat hy as eerstejaarstudent geskryf het, bekend gestel.
Peuters, kleuters, en ouer, ywerige lesers wat Mia (10) en Emma (8), sy twee dogters, insluit, het ’n laer om hom getrek op die mat en gehoor van boelies soos die nare Nanja (uit Riek en Niek 01) wat nie soos tipiese boelies lyk nie.
Vertellings uit Krol en Dil, Tekkies, en Sal ’n Skilpad op jou piepie? het ook die kinders en hul ouers vasgenael gehou in die biblioteek van Storie Huis, wat bestuur word deur onderwysers van die stad.
Jacobs sê dit voel vreemd om weer die stories wat hy as 18-jarige in die boek Net aliens eet spinasie, wat nou herdruk is, te lees.
Hy sê dit is hier en daar opdateer met die tegnologie wat so oor die jare verander het.
Madaleen Olivier, die eienaar van Storie Huis en ’n patoloog, sê die kern van die huis is die biblioteek en die storieklub, waarby enige kind kan aansluit vir R50 ’n maand.
- “Ons bied ook graag spesiale storietye aan waar plaaslike skrywers self hul stories vir die kinders lees of boeke bekend stel, want dit is altyd ’n kosbare ervaring vir die kinders.” Kinders en hul ouers word genooi om daagliks tussen 09:00 en 13:00 en 14:30 en 16:30 ’n prenteboek te lees by Storie Huis en ’n koppie koffie te geniet. Storie Huis is in Genl. Cronje-straat 46, Dan Pienaar.