Twee leerlinge aan die Eunice High School is onder die 16 topdeelnemers aan die ATKV-DigiToneelkompetisie.
Ná die vervaardiging van die ATKV se eerste werklikheidsreeks vir televisie, Gekies vir die Kollig, het deelnemers weer vanjaar die geleentheid om hul spel vir kamera te ontwikkel en hul buiging op TV te maak.
ATKV-DigiToneel is ’n voorloperplatform vir tieners om hul eie monoloë onder ’n temawolk in te skryf en dan vir beoordeling te verfilm.
“Vanjaar is inspirasie geput uit die getal 22. Dit is immers die jaar 2022 – ’n jaar waarin ons groot droom, maar steeds soepel sal moet wees in ons denke en avonture,” sê JJ van Niekerk, projekorganiseerder.
“Moenie dat uitdagings wat ons steeds omring jou ambisie en potensiaal kniehalter nie. Al wat dit soms verg, is ’n klein aanpassing hier en daar – en siedaar, ’n loopbaan in die kreatiewe kunste is joune.”
Inskrywings het ingestroom en dit het kopkrap geverg om die 16 topaansoekers aan te wys.
Mentors Schoemé Grobler, Mari Molefe van Heerden, Wilhelm van der Walt en Lea Vivier is dit eens dat hulle verstom is oor die gehalte van die werk.
Twee Bloemfonteiners wie se werk onder die 16 top-inskrywings tel, is Greta Maschke met Aanpas(sing) en Lucy Groenewald met Wakker word.
Almal wat ingeskryf het, ontvang benewens hul eerbewyse vir prysenswaardige prestasie in die eerste ronde ook persoonlike stemnotas van twee mentors op die paneel wat hulle kan gebruik om hul werk te verfyn.
Die 16 skaaf nou aan hul inskrywings en word dan verder deur nog twee beoordelaars gementor op hul reis na die nasionale eindronde, wat in Oktober as deel van die tweede aflewering van Gekies vir die Kollig op VIA, DStv-kanaal 147, uitgesaai sal word.