Stories wil asem kry; ’n tweede, derde keer

Ek onthou nog die skerp reuk van die groen stawe seep en die rokerige reuk van die tweedehandse boeke.


Ek onthou nog die skerp reuk van die groen stawe seep en die rokerige reuk van die tweedehandse boeke.

Voor my op die tafel was ’n wêreld van swart-en-wit stories. Ruiter in Swart, Dokter Conrad Brand – Ongevalle, Beau die Ontembare, en vele ander. Ek het by die foto-boekies gedraal terwyl pa deur Len Deighton en Frederick Forsyth en ander avonture geblaai het.

Die High Street Book Exchange in Bethlehem was vol winskopies. Hoewel baie mense fotoboekies as onheil en onheilig beskou het, is dit waar ek my leestande en voorliefde vir foto’s in aanbiedings, geslyp het.

Later jare se vakansies het in ontdekkingsreise ontaard. Dorpies waar ’n “book exchange” was, ’n besliste bestemming. Tussen die stories tussen bladsye, en die stories wat die boeke vertel het, het vakansiebestemmings uitgekring oor verbeeldingsgrense heen.

In sommige boeke vind ek boodskappe vir die ontvanger. Dikwels met die deurdagte rede oor waarom die spesifieke boek vir daardie persoon gegee word. En dan vul ek die gaping in oor hoe die boek van die ontvanger na die boekwinkel gekom het: Huisskoongemaak? Afsterwe? Egskeiding? Belangstelling verloor? Versuurde verhoudinge?

Die stories rondom die stories was onuitpluisbaar lekker. Soms ’n vliegkaartjie of koevert met ’n adres op as boekmerkie – nog storiestof.

In die binneland ruik boeke in tweedehandse boekwinkels dikwels stowwerig. Die buiterand van die blaaie verbruin vinniger.

Aan die kus is daar ’n effense muwwe reuk wat dikwels gepaardgaan met taaierige blaaie as ’n mens omblaai. In sommige boeke bedel kantlynaantekeninge om die opvolgleser te verlei na die gevolgtrekkinge van die oorspronklike leser. Soms in versigtige potlood en ander kere in kursiewe pen. Introverte aantekening-makers en ekstroverte kanttekening-makers.

Mede-meelewers van die verbeeldingswêreld wat ek betree sodra die letters woorde word, die woorde sinne, en ek sinlik ingesluk word om die grens na die geskepte ryk van die verbeelding oor te steek.

Tegnologie het baie verander. Eens skaars boeke is nie meer skaars nie. Aanlynboekwinkels en digitale boeke het lesers geseën met oorvloed, maar daarmee saam die sintuiglike pret om deur regte boeke (nuut of tweedehands) te snuffel.

Vir etlike jare besoek ek gereeld ’n klein tweedehandse boekwinkeltjie in Bloemfontein. Die eienaar-oom gee altyd afslag as hy my boeke in ’n afdelingswinkel-plastiek sak pak. In die rofweg-geklassifiseerde rakke rus stapels stories.

Verlede week maak ek op ’n yskoue wintersdag ’n draai. Die hangbordjie teen die deur wys “Closed”, maar die oom is binne. Ek klop. Hy het vergeet om die bordjie om te draai. Hy trek sy skouers op: “Ek is darem al amper 80.”

Boekrûe spog met titels terwyl ek deurstap; probeer hul bes om my oog te vang. Soveel stories wat wil asem kry – kort net ’n leser. Intussen gesels die oom.

Die winkeltjie maak einde Junie toe. Hy moet nog die boeke inpak. Ek hoop hulle gaan iewers uitgepak word. ’n Tweede asem gegun word.

Want as stories versmoor, versmoor ons almal.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.