Stormskade strek wyd

Talle inwoners van Bloemfontein het steeds teen Woensdag, ’n week ná die hewige donderstorm wat op 6 Desember oor die stad losgebars het, sonder krag gesit. Dié storm is Donderdag gevolg deur nog ’n storm, met hael wat in dele van die stad uitgesak h


Talle inwoners van Bloemfontein het steeds teen Woensdag, ’n week ná die hewige donderstorm wat op 6 Desember oor die stad losgebars het, sonder krag gesit. Dié storm is Donderdag gevolg deur nog ’n storm, met hael wat in dele van die stad uitgesak het.

Heelwat groot bome het Woensdagaand gebreek of is uit die grond geruk, honderde huise se dakke het afgewaai en motors en strukture soos mure is beskadig in die storm.

Julius Mahlangu van die Bloemfonteinse weerkantoor sê Woensdag se storm was ’n supersel-donderstorm.

“Erge dwarrelwinde het voorgekom.”

Hy sê die dwarrelwinde wat in video’s te sien is, was nie ’n volskaalse tornado nie.

“Met ’n tornado strek die windtonnel tot in die wolke,” verduidelik hy.

“Dit was nie hier die geval nie.”

Hy sê winde van tussen 41 km/h en 61 km/h is tydens die storm by die weerstasie by die Bram Fischer-lughawe gemeet.

Woordvoerder Lele Mamatu het Dinsdag aan Bloemnuusgesê dat Centlec hard werk om die agterstand met die herstel van kragtoevoer in te haal.

“Meestal is die krag na woongebiede nou herstel, met individuele klagtes wat nou hanteer word,” het hy gesê.

Maureen Oosthuizen, direkteur van Genade in Aksie, se swart paneelwa is deur die versekering afgeskryf toe dit in Shortstraat in die Bloemfonteinse middestad deur vallende voorwerpe beskadig is. Die VW Caddy was in die straat geparkeer toe die storm uitbreek.

“Ek het by ’n venster gestaan en gesien hoe geute, sinkplate en takke rondwaai en hoe sonpanele van ’n dak af waai. Toe alles stil raak, het ek in die Caddy geklim en huis toe gery terwyl water op my skoot stroom,” sê sy oor die voorval.

Sy sê dit is baie sleg dat die motor afgeskryf is.

“Genade in Aksie het nog projekte tot 15 Desember, en ek moet nog kospakkies na mense versprei. My mense het nodig om nou te rus, maar ek is steeds beskikbaar om skenkings te ontvang,” sê sy.

’n Vyfjarige seun is in Fase 6 oorlede nadat hy deur puin getref is. Drie pasiënte is vir beserings in die Pelonomi- Akademiese Hospitaal behandel en is reeds ontslaan.

Qondile Khedama, woordvoerder vir die Mangaung-metro, sê meer as 159 inwoners het skade aan huise aangemeld.

“Dele wat die ergste deur die storm getref is, is Turflaagte en Fases 6 en 10.”

Khedama sê die metro het plastiekvelle beskikbaar gestel waarmee inwoners hul beskadigde huise kan toemaak.

“Ons werk saam met die provinsie en koördineer met welsynsorganisasies soos die Rooikruis en Meals on Wheels, wat inwoners help.”

Khedama sê ondersteuning van Gift of the Givers is ook versoek.

Hy sê die metro het geld beskikbaar gestel om vir inwoners wie se sinkhuise heeltemal vernietig is, tydelike wonings op te rig.

“Die provinsiale en nasionale departemente van nedersettings ondersoek die skade aan huise.”

Woonbuurtverenigings en ander organisasies het gehelp om die bome en takke uit strate te verwyder. Lede van AfriForum sektor 3 het Woensdag tot ná 21:00 gespook om ’n groot boom uit Kellnerstraat te verwyder. Vrydag het raadslede van die VF Plus saam met die metro gewerk om opruimingswerk te doen.

Braam Vorster en Henry Denner van die VF Plus het saam met die Westdene-woonbuurtvereniging hulp verleen met opruimingswerk hier waar heelwat bome omgewaai het.

You need to be Logged In to leave a comment.