Eienaars van private ondernemings wat vullis, tuinafval en bourommel wegry, is woedend omdat die swak bestuur van die noordelike stortingsterrein hulle duur aan skade aan hul voertuie en verlies aan inkomste kos.
’n Groep eienaars van sowat 20 ondernemings het Dinsdag (15/02) oplossings vir hul probleme van die Mangaung-metro geëis.
’n Versoek is gerig dat die hoof van die afdeling vir vullisverwydering en vlootbestuur, Sello More, die vergadering laataand op die parkeerterrein by die Northridge-inkopiesentrum naby die stortingsterrein bywoon. Hy het amptenare afgevaardig om met die groep ontevrede sakelui te praat.
Daniel Mosia, waarnemende hoof van die metro se stortingsterreine, het na die klagtes geluister.
Peet Yssel van Skips Coza, wat tuinafval en vullis met stortbakke (“skips”) wegry, sê hulle het baie werk omdat die metro nie sy werk doen nie en hulle hard probeer om inwoners te help om die stad skoon te kry.
“Die stortingsterrein is onbegaanbaar en ek het al duisende rande se verlies gehad aan motorskade en skade aan bande.”
Yssel sê die probleem is dat die stortingsterrein nie gelykgestoot word nie en die toegangspad waarheen hulle verwys word tot onder in die terrein erg vernou totdat dit doodloop.
“Ons kan nie met die waentjies waarop ons skips is in trurat daar uitry nie. Die waentjies kry erge skade.”
Hulle versoek dat die stortingsterrein reg bestuur word en vir almal toeganklik gemaak word.
Boonop veroorsaak die toestande op die stortingsterrein dat hulle ure neem om ’n vrag vullis af te laai.
“Iets wat 15 minute moet neem, kan maklik drie uur neem.
“As ’n mens 12 skips het wat leeggemaak moet word, kom jy nie by almal uit nie omdat jy ure lank in die verkeer op die stortingsterrein vassit.”
Pieter Kruger van Skips 2000 sê hul kliënte raak kwaad as hulle nie die stortbakke kom oplaai op die tyd waarop ooreengekom is nie.
“Dit is omdat ons ure lank sukkel om die vullis afgelaai te kry, of na die suidelike stortingsterrein moet ry.”
Mosia het toegegee dat daar al byna ’n jaar lank nie ’n bestuurder by die noordelike stortingsterrein is nie en dat ’n nuwe bestuurder aangestel moet word.
“Intussen help die bestuurders van die metro se ander stortingsterreine om dié terrein te bestuur.”
Daar is blykbaar ook te min werknemers – slegs 12 van die 40 wat daar moet werk. Die sake-eienaars sê die paar werknemers wat wel daar is, doen nie hul werk nie.
Die amptenare gee ook toe dat die metro hier geen toerusting het wat werk nie, en dat kontrakteurs gebruik word om die werk te doen.
Mosia het gesê hy sal toesien dat ’n beter pad gemaak word sodat voertuie in ’n sirkel kan ry en verkeersopeenhopings verminder word. Hy sê hy sal toesien dat vullis weggewerk word sodat plek voortdurend vir nuwe vullis geskep word.
Hy soebat mense om nie vullis buite die stortingsterrein te gooi nie.
“Dit maak ons werk meer – nou moet ons binne en buite vullis verwerk,” sê hy.
Die stortbak-eienaars hou vol dit is nie hulle wat vullis buite die hekke stort nie – hulle soek oplossings om binne die terrein hul vullis af te laai.
“Dit is byna 40 km van die noordelike na die suidelike stortingsterrein. Ons kan nie elke keer hier uit die noorde al die pad na die suide ry nie – dit neem baie tyd in beslag,” sê Yssel.
Die groep sê hoewel daar baie probleme op die suidelike stortingsterrein is, is dit vir hulle moontlik om daar in te ry en af te laai.