Kobus Klaassen met ’n vorige hofverskyning buite die landdroshof in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw


’n Werktuigkundige van Bloemfontein is Maandag (28/08) in die streekhof in die stad ’n boete van R20 000 of twee jaar tronkstraf opgelê nadat­ hy skuldig gepleit het op aanklag van poging tot moord ná ’n voorval op Kersdag verlede jaar by Maselspoort.

Kobus Klaassen (49) is luidens ’n pleitooreenkoms deur streeklanddros Rasheed Matthews gevonnis tot twee jaar tronkstraf, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, nadat hy Kgokong Nakedi (18) ongeveer sewe sekondes lank onder die water in een van die swembaddens van die Maselspoort-vakansieoord gedompel het.

Klaassen is voorts op aanklag van aanranding op ’n 13-jarige seun, wat hy aan die nek gegryp het, tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis.

Klaassen se vonnis spruit uit ’n voorval wat op Kersdag verlede jaar by die vakansieoord op video vasgelê is. Dit wys hoe drie mans en twee seuns in en op die rand van ’n swembad handgemeen raak. Dit is nie op die video hoorbaar waaroor die onderonsie gaan nie.

Matthews het by vonnis­oplegging gesê Klaassen is skuldig aan ’n ernstige misdaad wat tot groot ontsteltenis oor die land heen gelei het. Hy het gesê die voorval het nasiebou in die land op die agtervoet gesit.

Volgens Matthews is dit egter verblydend dat Klaassen jammer is oor sy dade.

“Almal maak foute, maar ons leer daaruit. Ek twyfel nie dat jy ook uit hierdie voorval geleer het en berou het nie, maar jy moet ook erkenning gee aan die klaers se goedgunstigheid.”

Matthews het verder gesê hoewel dit nie ’n maklike vonnis is nie, sal die programme wat deel van die korrektiewe vonnis uitmaak van Klaassen ’n beter mens maak.

Luidens die pleitooreenkoms wat deur adv. Jacques Potgieter, Klaassen se regsverteenwoordiger, in die hof voorgelees is, het Klaassen geen regverdiging vir sy dade nie en is hy ten volle bewus dat dit verkeerd was.

Potgieter het in opdrag van Bertus Jacobs van Jacobs Fourie-prokureurs vir Klaassen opgetree. Ntai Letaba het aangekla.

Die verhoor van Johan Nell, Klaassen se medebeskuldigde, is vroeër vandeesmaand tot vroeg Desember vir verhoor uitgestel, terwyl ’n ander beskuldigde, Jan van der Westhuizen, in Mei vanjaar ’n boete van R4 000 of ’n jaar tronkstraf opgelê is nadat hy ’n pleitooreenkoms aangegaan en skuld op ’n aanklag van aanranding beken het.

Hy is ook tot drie jaar tronkstraf gevonnis, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, op voorwaarde dat hy nie in dié tyd weer aan aanranding­ skuldig bevind­ word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.