Die naglug rondom die Bloemfontein Skietsentrum het Saterdag 19 Oktober weergalm met hael- en jaggeweer-skote.
’n Nagskiet-kompetisie is nie eintlik ’n algemene verskynsel nie, nog te meer waar die deelnemers moes deelneem in twee dissiplines: jag en haelgeweerskiet.
Dertig skuts het hul staal gewys en deelgeneem aan die eerste Nagskiet Lekkerte-kompetisie wat aangebied is deur die Bloemfontein Sportskietklub (BSSK) en die Maccauw-haelgeweerklub.
Deelnemers moes hul eie gelisensieerde vuurwapens en ammunisie verskaf en met die jaggeweer het skuts na drie verskillende teikens en oor verskillende afstande geskiet.
Die skuts is getroef met ’n Rooibok-teiken op 135 m waar die skut oor ’n skietstok moes skiet, ’n Zebra-teiken op 160 m sittend oor ’n glasvesel miershoop en die Jakkals-teiken op 210 m dooierus oor ’n sandsak vanaf ’n skiettafel. Op elke teiken is vyf skote geneem.
Skuts het hul posisie ingeneem met beligting en sodra almal reg was, is die ligte afgeskakel en die kolligte is aangeskakel. Die skuts moes dat binne 90 sekondes na die teiken skiet voordat die kolligte weer afgeskakel is. Tellings is geneem nadat elke skut vanuit die drie posisies geskiet het. Daar het 12 skuts gelyktydig deelgeneem.
Die baanbouers van die haelgeweerbaan het die deelnemers deur die Compak-formaatbaan geneem waarna vyf stasies metwaar daar na vyf kleiteikens per stasie geskiet is. Skuts het na 25 kleiteikens per kompetisie geskiet met ses verskillende kleimasjiene wat gebruik is. Om aan te pas by die nagomstandighede is die deelnemers met wit, neongeel en -oranje kleiteikens getoets wat onder sterk beligting sigbaar was.
Die kompetisie is gewen deur Helgard Truter, met Deon Steyn tweede en Paul Welgemoed in die derde plek.
“Ons is baie opgewonde oor die deelname en spanpoging in die aanbieding van die kompetisie en bedank die borge vir hul mildelike deelname. Ons gaan beslis in die toekoms meer na hierdie tipe interklub-aktiwiteite mik,” sê Philip Coetzee, voorsitter van die BSSK.