Wian Roux van die Tuks Archery Club in Gauteng (links) en Conner Young van die Mark’s Park Archery Club tydens die kampioenskap in Bloemfontein. Foto: Verskaf


Skuts van oor die land heen het die naweek by die Tempe-boogskietklub deelgeneem aan die Vrystaatse Teiken Boogskiet-kampioenskap.

Emile Botha, ’n kontinentale skeidsregter vir Afrika, en provinsiale kandidaat-skeidsregter Rika Waldeck het as skeidsregters tydens die toernooi gedien.

Skuts van Gauteng, die Oos-Kaap en die Vrystaat het om medaljes meegeding.

Onder die groep was daar Protea-skuts asook lede van die Suid-Afrikaanse Olimpiese Ontwikkelingspan in die Kurfboog-afdeling.

Die Paralimpiese Suid-Afrikaanse skut in die Kurfboog-afdeling, Shaun Anderson, het ook aan die kompetisie deelgeneem ter voorbereiding vir ’n toernooi wat later die maand in Doebai aangebied word.

Ongelukkig het Anderson hitte-uitputting voor die einde van die naweek se toernooi gekry en hy moes inderhaas behandeling daarvoor kry. Hy is in die hospitaal opgeneem, maar is later die dag ontslaan en het veilig na Pretoria teruggereis.

Botha sê die toernooi was ’n groot sukses en dit was ’n plesier om die skuts uit ander provinsies in Bloemfontein te verwelkom.

You need to be Logged In to leave a comment.