Vrywilligers hou die kinders besig terwyl die ouers rustig tussen die stalletjies beweeg. Foto: Verskaf


Altesaam 2 400 mense in nood, 15 000 kledingstukke, 2 400 worsbroodjies, 500 vrywilligers van 8 kerke in Bloemfontein – dit som kortliks Street Store 2024 op wat op 18 Mei by Anchor of Hope en die Primêre Skool Heide in die stad gehou is.

Sedert Street Store in 2016 die eerste keer gehou is deur die Doxa Deo-gemeente in Bloemfontein het die projek van krag tot krag gegaan.

In daardie eerste jaar is sowat 1 500 kledingstukke aan ongeveer 350 mense uitgedeel – elkeen het ook sop en ’n broodjie gekry van daardie jaar se 100 vrywilligers.

Die projek het jaarliks gegroei sodat dit nou al duisende mense bereik.

Marnélle Prinsloo, projekkoördineerder van Doxa Deo, vertel Street Store werk soos ’n winkel waar minderbevoorregtes vir hulle klere kan uitkies op ’n manier wat hulle laat voel hulle het ook ’n keuse. Verder word moeite gedoen om te verseker dat klere van goeie gehalte is – nie stukkend of verslete nie.

Net soos in ’n regte winkel word die klere volgens grootte gesorteer.Foto: Verskaf

“Vrywilligers stap dan saam met die shoppers deur die ‘winkel’ om hulle te leer ken en te bedien.”

Hoewel hoofsaaklik klere uitgedeel word, kry elke besoeker iets te ete op die dag. As ekstra kos- en speelgoedskenkings ontvang word, word dit ook uitgedeel.

Sanitêre produkte vir jong meisies en vroue word ook verskaf.

“Baie meisies het nie sanitêre produkte nie en dan gaan hulle net nie skool toe nie – as jy ’n basiese berekening doen, kyk ons na ’n week ’n maand, 12 weke per jaar, 3 maande of basies ’n kwartaal, van skool wat gemis kan word. Of vroue gebruik produkte wat nie higiënies is nie.”

Vanjaar is Street Store die agtste keer gehou – net in 2020 met Covid-19 het dit nie plaasgevind nie. In dié agt jaar is meer as 85 000 kledingstukke uitgedeel en etes, hetsy sop en brood of worsbroodjies, is aan altesaam 14 450 besoekers verskaf. Verlede jaar en vanjaar is ook 3 200 sopmengsels, waarmee vier mense met ’n porsie gevoed kan word, uitgedeel.

Vrywilligers stap saam met mense tussendeur die klere-stalletjies wat onlangs vir Street Store 2024 by Anchor of Hope opgerig is. Foto’s: Verskaf

In 2019, die jaar voor Covid-19, het 2 000 mense 11 000 kledingstukke kom uitsoek, in 2021 was daar 2 200 wat 13 000 kledingstukke gekry het. Die meeste nog was egter in 2022 – met daardie jaar se Street Store het 2 800 mense vir hulle 18 000 kledingstukke uitgesoek.

Verlede jaar was die meeste gemeentes nog – tien van hulle – by die projek betrokke. Die agt betrokkenes vanjaar was: Doxa Deo Fichardtpark en Sentraal, Doxa Deo Noord, NG kerk Pellissier, AGS Siloam, Every Nation, die Bloemfontein-baptistekerk, Kerugma Volle Evangelie-kerk en Die Ark-Bybelskool.

Volgens Prinsloo bly daar elke jaar van die klere oor – dit word dan in die week ná Steet Store uitgesorteer en aan ander organisasies geskenk wat dit dan verder versprei.

“Elke jaar in September begin ons nuut.”

Houers word dan by skole, kerke en winkelsentrums geplaas waar mense klere kan skenk vir die volgende jaar se Street Store.

You need to be Logged In to leave a comment.