Ontvangers van pensioen en toelae van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) is bekommerd oor wat gaan gebeur wanneer hul kaart binnekort verval.
Een van die maklike oplossings is om betalings via ’n Shoprite Money Market-rekening te ontvang.
Lusisipo Ndongeni, kantoorhoof van korporatiewe kommunikasie van die Shoprite-groep, sê dit is ’n bekostigbare opsie. Geen maandelikse bankkoste word gehef nie – en slegs R5 vir elke kontant-onttrekking. Alle ander transaksies is gratis.
Klante kan SMS-kennisgewings van betalings ontvang en op hul foon sien wat hul saldo is. Onttrekkings en deposito’s kan by Checkers-, Shoprite- en Usave-winkels gedoen word. Klante betaal nie om geld te stuur, lugtyd, data of elektrisiteit te koop of rekenings te betaal nie.
Doen aansoek by Money Market-toonbanke by een van die bostaande winkels, skakel *120*3534# of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 087-240-5709. Neem die Sassa-aansoekvorm, bankbrief en ’n oorspronklike ID-kaart na ’n Sassa-kantoor vir registrasie vir die diens.