’n Swemmer van Bloemfontein wat môre op ’n geselligheid sy Vrystaat-kleure in swem kry, gaan nie aan die Vrystaat-kampioenskapsbyeenkoms wat sedert Woensdag in die stad gehou word, deelneem nie.
Elih Lawrence, ’n swemmer met gestremdheid wat onder die klassifikasie S14 swem en mik om in 2028 aan die Spesiale Olimpiese Spele te gaan deelneem, asook Usenathi Segone, wat in dieselfde klas deelneem, is vroeër vandeesmaand aan die Vrystaat-swemkampioenskap onttrek.
Hul onttrekking aan die byeenkoms kom weens ’n brief van Vrystaat Swem waarin gesê word dat swemmers met gestremdhede as gewone swemmers aan die provinsiale byeenkoms moet deelneem. In die brief word dit gestel dat die Vrystaat nie beamptes het wat op byeenkomste kan toesig hou oor nommers vir atlete met gestremdhede nie.
In dié brief, wat op 20 November uitgestuur is, word gesê dat klubs wat in die toekoms nommers vir gestremde swemmers as deel van ’n gala wil aanbied, die koste daarvan moet dra.
Nadat BloemNuus Dinsdag hieroor navraag gedoen het, het Vrystaat Swem dieselfde dag nog ’n brief aan Mangaung Aquatics gestuur.
Daarin word gesê dat ’n brief op 14 November, twee dae nadat inskrywing vir die byeenkoms gesluit het, aan Vrystaat Swem gestuur is om seker te maak dat die twee swemmers onder hul klassifikasie as S14 ingeskryf word, wat toe gedoen is.
Vrystaat Swem sê in die brief Dinsdag dat daar nie ná die uitnodiging aan swemmers op 15 Oktober versoek is dat nommers vir mense met gestremdhede geskep word nie.
Volgens die skrywe het swemmers verlede jaar die opsie gehad om óf saam met die ander swemmers óf in ’n aparte nommer deel te neem, en is die opsie steeds daar dat aparte nommers geskep kan word.
Michele Lawrence, Elih se ma, sê hulle gee glad nie om of Elih saam met gewone swemmers of in ’n aparte nommer swem nie, solank sy klassifikasie net geld.
Elih gaan van 13 tot 15 Desember in Gqeberha aan die Nelson Mandela Aquatics-swemkampioenskapsbyeenkoms deelneem, waar multi-klas-nommers vir swemmers met gestremdhede geskep is.
Carolien Koen van Mangaung Aquatics sê hulle het onlangs die stelsel getoets waar ’n gestremde swemmer met ’n klassifikasie wat saam met ander swemmers deelneem, se tyd reg deurgetrek word.
Sy sê wel daar is onduidelikheid oor die deelname van swemmers met gestremdhede, en dat ’n nasionale werksessie oor die reëls en regulasies wat van toepassing is, vir Januarie beplan word.
Mangaung Aquatics sê dié organisasie ondersteun swemmers met gestremdhede en wil toesien dat swemmers hul doelwitte bereik.