Die dissipline wat liggaamsbou verg, was ’n natuurlike uitdaging vir ’n jong Kovsiestudent.

Simoné de Klerk (20), wat haar BSc-graad in sportwetenskap en kinderkinetika aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi, het vroeër vanjaar besluit sy gaan haar op liggaamsbou toespits.

Haar eerste uitdaging is die Wêreldfiksheidsfederasie van Suid-Afrika (WFFSA) se Bloem Classic-kompetisie wat op Vrydag 6 Mei op Bloemskou aangebied word.

Aangesien die skou weens die Covid-19-pandemie in 2020 en 2021 afgelas is, kry liggaamsbouers in die sentrale streek die eerste keer sedert 2019 die geleentheid om in dié kompetisie kragte te meet.

De Klerk sê sy het met Hende-Mari Strydom, president van die WFFSA, gesels om raad oor ’n fiksheidsprogram en dieet te kry.

“Sy het my ook touwys gemaak oor posering, waaraan ek elke dag in die gimnasium oefen,” sê sy.

“Dit is baie harde werk, hoor.”

Sedert haar skooldae aan die Hoërskool Jim Fouché is De Klerk baie mededingend.

Sy het in driekamp, atletiek, landloop, netbal en aksienetbal uitgeblink.

“Wanneer ek iets aanpak, doen ek dit voluit. Dit verg baie dissipline, maar ek weet ek oefen vir ’n doel.”

De Klerk sê sy kon sien hoe haar lyf op haar daaglikse oefening en dieet reageer.

Op die Bloem Classic-kompetisie gaan sy aan die bikini- en glamorous-afdeling deelneem.

Haar kêrel, Riaan Heyman, is ’n persoonlike afrigter wat ’n handjie bygesit het om haar met haar oefenprogram te help.

Hy het verlede week na Amerika vertrek om ’n tyd lank daar te werk.

“Dit is jammer dat hy die kompetisie gaan mis, maar hy ondersteun my regtig baie,” sê sy.

  • Deelnemers aan die Bloem Classic-kompetisie kan in 23 afdelings meeding.

Registrasie vind van 08:00 tot 10:00 op die skouterrein plaas. Inskryfgeld beloop R250 per atleet, met ’n bykomende R100 per afdeling.

’n Beperkte aantal spesiale toegangskaartjies is teen R200 beskikbaar. Besoekers aan Bloemskou kan ook om 17:00 na die Coca Cola-verhoog beweeg om die kompetisie te kyk.

Belangstellendes kan navrae rig deur Johan Botha by 079-722-7068 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.