Die moontlikhede vir Lindiwe Mothibeli, wat haar gevorderde diploma in menslikehulpbronbestuur op die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), Vrystaat, se herfsgradeplegtigheid in Welkom ontvang het, is legio.
Dit is danksy die SUT se voortsetting van ‘n inklusiewe en ondersteunende leeromgewing vir alle studente om hul akademiese en persoonlike doelwitte te bereik.
Mothibeli, ‘n gesiggestremde, se gradeplegtigheid is ‘n bewys hiervan.
Sy het op 20 Maart op die rooi tapyt gestap om haar kwalifikasie op die Welkom-kampuseremonie te ontvang.
Mothibeli, gebore en getoë in Senekal in die Oos-Vrystaat, het gesê haar reis was een van veerkragtigheid, vasberadenheid en onwrikbare ambisie.
Ondanks haar gesiggestremdheid, het sy nooit toegelaat dat haar toestand haar vermoëns definieer nie.Met die regte ondersteuningstelsel in plek kon sy gedy.
Mothibeli skryf baie van haar sukses toe aan die SUT se Eenheid vir Gestremdhede (DU), wat dien as ‘n deurslaggewende skakel tussen studente met gestremdhede en hul dosente.
Sy erken die DU se rol daarin om ‘n gladde leerproses vir haar te verseker deur noodsaaklike ondersteuningsdienste te verskaf, insluitend skrywers vir skryftake en kommunikasiehulp met dosente.
“My reis met die SUT het glad verloop, want ek het al die ondersteuning gehad wat ek nodig gehad het. Die DU het die proses van onderrig en leer vir my maklik gemaak.
“Wat ek ook al nodig gehad het, ek kon met hulle kommunikeer, en hulle het met my dosente geskakel.”
As die jongste van vier broers en susters en die tweede gegradueerde in haar gesin, strek Mothibeli se aspirasies verder as akademie.
Sy doen nou haar Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR) Vlak 8-kwalifikasie en het haar visier op ‘n meestersgraad gerig.
Mothibeli is passievol daaroor om ander studente met gestremdhede te help om hul identiteit te omhels en hul volle potensiaal te bereik.
Op uitnodiging van die DU hou sy werksessies met dosente van verskeie instellings om hulle te help om ‘n meer inklusiewe leerervaring vir studente met gestremdhede te skep.
Haar missie is om studente én opvoeders aan te moedig om ‘n meer begripvolle en akkommoderende akademiese omgewing te bevorder.
Sy het ander studente wat gesiggestremd is, aangeraai om hul uniekheid te omhels en sonder terughouding te droom.
Aan diegene wat gesiggestremd is, sê sy: “Kruip uit jou dop en verken die wêreld om jou. Aanvaar jouself soos jy is. Droom groot en maak seker dat jy bereik wat jy wil. Die moontlikhede is legio. Moenie toelaat dat jou omstandighede ‘n hindernis vir jou sukses word nie.”
Mothibeli moedig ouers aan
om hul kinders se opvoedkundige strewes te ondersteun, ongeag hul gestremdhede.
“Ouers, moet asseblief nie jou kind weerhou van onderrig net omdat hulle gestremd is nie. Laat hulle toe om verskillende weë te verken, want hulle het potensiaal soos enigiemand anders.”
