Die jong student wat die afgelope week om haar lewe in die Mediclinic Bloemfontein geveg het, is vanoggend in die vroeë oggendure oorlede.
Lerisha Visser (20), ’n tweedejaar regstudent aan Eduovs in die stad, het op Woensdag 20 September in haar koshuiskamer se badkamer in Huis Amelia inmekaar gesak nadat sy oomblikke tevore oor pyn in haar linkerskouer gekla het.
Haar vriendinne het dadelik met haar na ongevalle gejaag, maar toe hulle by die hospitaal aankom, was haar liggaam leweloos.
Noodpersoneel het ’n uur lank geveg voordat haar hart weer begin klop het.
Later het die medici bepaal daar was baie bloedklonte in haar longe. Dit het die suurstoftoevoer na haar hart afgesny. Sy het skade aan haar breinstam opgedoen.
Sy was die afgelope week in die waakeenheid van die hospitaal waar masjiene haar aan die lewe gehou het voordat sy vanoggend omstreeks 02:00 oorlede is.
“Jesus het haar kom haal,” het haar ma, Monica Visser, Vrydag gesê.
Lerisha laat ook haar pa, Jaco, en haar broer, Erich, wat in Grey-kollege is, agter. Die gesin is van Vereeniging.


