Die Dinamiese Netwerk Bemarkingsgroep (DNB) het danksy ’n suksesvolle gholfdag op 20 Oktober ’n stewige bydrae daartoe gemaak dat jongmense kan studeer.
Kobus Venter van Solidariteit Helpende Hand sê hulle kry baie versoeke vir studiehulp van jongmense oor die Vrystaat heen.
“Net in Bloemfontein is 13 studente die afgelope sewe jaar met meer as R850 000 gehelp,” sê Venter.
Studente kan met hierdie lenings hul studie voltooi en eers die geld terugbetaal sodra hulle begin werk.
Danksy die gholfdag is daar op ’n geselligheid Donderdag (27/10) R67 000 vir die nuutgestigte DNB Gemeenskapstudiehulpfonds bygedra. Die fonds word deur Helpende Hand bestuur.
Solidariteit Helpende Hand se studiefonds is in 2009 gestig sodat skenkers ’n bydrae kan maak om behoeftige Afrikaanse studente te help om met ’n rentevrye lening te studeer. Venter sê die model van ’n rentevrye studielening verskaf ’n volhoubare benadering van voortsetting waarvolgens die een student vir die volgende een se studie betaal.
Hy verduidelik skenkers kan die raamwerk bepaal waarvolgens studente gehelp word. Die DNB het gevra dat die geld aangewend word vir ’n student in Bloemfontein, of in ’n radius van ongeveer 150 km rondom die stad.
“Dit kos ’n student sowat R160 000 om vier jaar lank te studeer, en dit neem ’n student ongeveer 5 tot 7 jaar om studiegeld terug te betaal. DNB se bydrae gaan ’n groot verskil maak,” sê Venter.
Nasionaal is 5 514 studente al die afgelope 14 jaar met Helpende Hand se fonds gehelp, waarvan 4 105 reeds werk.
Lillian Zaaiman, voorsitter van die DNB, sê hulle sal voortaan 10% inkomste uit alle geldinsamelingsprojekte tot hierdie studiefonds bydra om dit volhoubaar te maak. “Dit is vir ons lekker om op so ’n manier ’n bydrae te maak om jongmense van ons land te ondersteun,” sê sy.