Vir die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie begin het, het studente van verskillende studente-organisasies aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) weer uitgereik na die gemeenskap.
’n Groep onder leiding van Gernus Terblanché, studenteraadslid verantwoordelik vir burgerlike en maatskaplike verantwoordelikheid, het die Talitha Cumi-kindersorgsentrum in Batho op Vrydag 3 Junie besoek.
Dié groep studente verteenwoordig verskillende organisasies wat almal ’n bydra wil maak om mense se lewe te verbeter.
Alfie Moolman, koördineerder van die UV se direktoraat gemeenskapsbetrokkenheid, sê die uitreik is deel van die UV se pogings om volhoubare verhoudings met instansies in die groter Bloemfontein te vestig.
Die studente het ingeloer by die twee huise wat ’n tydelike hawe is vir kwesbare kinders en babas wat versaak, verwaarloos en mishandel is.
Die een huis is vir kinders van twee tot 10 jaar en die ander vir babas en peuters.
Gernus en sy ma, Gerda, het baba-klere wat ’n baadjie, mussie en kousies insluit, gehekel. Die pakkies klere is tydens die besoek aan Brenda Okpori, die huismoeder vir die huis waar die babas gehuisves word, oorhandig.