Studente weer vir tuisversorging opgelei

Dit is vanjaar die tweede jaar agtereenvolgens wat ’n groep tuisversorgers danksy Solidariteit Helpende Hand in die Vrystaat opleiding ontvang.


Dit is vanjaar die tweede jaar agtereenvolgens wat ’n groep tuisversorgers danksy Solidariteit Helpende Hand in die Vrystaat opleiding ontvang.

Die groep van 15 studente het hulle einde Februarie aangemeld vir die kursus wat in Bloemfontein by die Siesta-aftreeoord aangebied word.

Nie net kry die studente teoretiese kennis nie, maar omdat die opleiding by Siesta plaasvind, kry die studente ook die geleentheid om praktiese werk te doen.

Vanjaar het altesaam 50 studente op kampusse in Bloemfontein, Pretoria, Krugersdorp, die Paarl en Gqeberha met die tuisversorgingsopleidingsprogram begin.

Benette Welman, projekorganiseerder van die tuisversorgingsprogram, sê dat die behoefte aan hierdie opleiding ontstaan het omdat soveel ouer mense wat verkies om by hul huise versorg te word in plaas van by vreemde versorgingsinstansies.

“Solidariteit Helpende Hand het oor die afgelope paar jaar ’n dringende behoefte aan tuisversorgers geïdentifiseer en het in 2021 kragte met Gratia Via-akademie saamgesnoer om ’n geakkrediteerde kwalifikasie in tuisversorging aan te bied,” sê Welman.

Die kursus word oor ’n tydperk van ses maande aangebied waarin teorie en praktiese sessies afgewissel word. In Bloemfontein beteken die praktiese sessies ekstra hulp vir die tehuis in ’n tyd wanneer tehuise dikwels sukkel om genoeg personeel aan te stel om die werk te doen.

“Studente wat hierdie kwalifikasie ontvang, is goed opgelei en op ’n hoë standaard. Die praktiese ervaring sal aan die student die nodige selfvertroue bied om, sodra die kursus voltooi is, hierdie dienswerk met die nodige kennis en ervaring uit te voer.

“Solidariteit Helpende Hand wil met hierdie opleiding graag goed gekwalifiseerde, Afrikaanse tuisversorgers die land in te stuur,” sê sy.

Dr. Elsha Hermann, hoof van navorsing en maatskaplike ontwikkeling by Helpende Hand, sê Helpende Hand skep met die opleiding van die tuisversorgingstudente nie net ’n toekoms vir die studente nie, maar dit gee ook aandag aan ’n groot behoefte in die gemeenskap.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê die beroep van tuisversorging is nie ’n beroep waaroor ’n mens geneig is om te dink totdat jy dit vir jou of vir familielede nodig kry nie.

“Wanneer ons of familie dit nodig kry, is ons geneig om altyd die beste te soek – die beste opgeleide versorger teen die beste prys met die beste etiek en die beste vermoëns.

“Juis daarom is dit belangrik vir Helpende Hand om die beroep van tuisversorging te standaardiseer en sterk te maak sodat ons kan sê die beroep van tuisversorging is ’n eerbare beroep wat almal eendag kan nodig hê en wat die samelewing sterker maak. Dit is onmisbaar vir ons almal,” sê hy.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.