Rye en rye studente, laggend en ontspanne, stroom na Shimlapark om na die groot rugbyderby te gaan kyk.

Ek ry op Kovsiekampus tussen die talle spoggerige nuwe geboue deur.

Daar is honderde studente te voet op pad stadion toe, maar dit voel my daar is soveel meer motors waarmee studente deesdae op kampus rondrits as in my tyd. Ek sukkel om parkeerplek te kry en moet diep in die donker veld gaan parkeer.

Sommige goed is nog dieselfde as derjare gelede toe ek daar studeer het. Die saamtrekke van gelukkige studente tydens ’n rugbywedstryd of op die Joolkol vir die een of ander geleentheid is steeds prettig en luid. Daar is net nou soveel meer studente op kampus.

Ek kyk so ’n rukkie rugby, juig saam met die studente wanneer die Shimlas drieë druk – en hét die manne nou vir jou drieë gedruk . . .

Dit is egter ná die tyd toe ek op die stil kampus ry, verby die Prof Parkers se kantoor na my ou koshuis, dat die herinneringe my so los-en-vas beetpak.

My koshuis wat regtig nog presies dieselfde lyk en selfs nog sy oorspronklike naam het: Wag-’n-Bietjie.

Wonderlike tye.

’n Mens onthou soms sulke onsinnige dinge, soos die een aand toe die manne van Malhuis kom sokkie het – almal geklee in ’n meisie of vriendin se kort nagrokkie.

Sulke harige bene onder die pikante slaapgoedjies. Ons het beslis nie net gedans nie. . . ons het ons slap gelag vir hul kaskenades.

Of die keer toe ek laataand angstig sit en leer vir ’n eksamen. Die aankondiging kom oor die luidspreker: “Lientjie Mentz, Lientjie Mentz, voordeur.

Effe geïrriteerd stap ek af – dis laat en ek het nog baie leerwerk. Maar daar, in die voorportaal, staan my vriende gelate. Handdoeke oor die skouer en gereed vir swem. Ek moet saam.

Natuurlik het ek saamgegaan. Vir ’n onvergeetlike nagswem terwyl ek eintlik moes swot.

In daardie einste gazellie in Wag-’n-Bietjie waar ons soveel aande omgesokkie het, het ons ure omgekuier om die teetrollie.

Een aand het ons selfs na ’n impromptu-optrede van Laurika Rauch geluister. Wat ’n voorreg.

In daardie jare was ek op tallose kampe, asook staptoere na verre dele van die land en selfs Namibië.

Ons geld was min, maar ons sorge was ook min.

En petrol was goedkoop. En ons ouers was almal engele en geduldig met ons avonture.

’n Mens is net een keer in jou lewe ’n jong student.­

You need to be Logged In to leave a comment.