Bloemfonteiners kan uitsien na ’n balletvertoning met ’n verskil.
The ABBA Show – A Cinderella Story, ’n skepping van Mzansi Ballet, is ’n gesinsvriendelike balletvertoning in die Sand du Plessis-teater.
Dit is deel van ’n toer van Mzanzi Ballet, wat vertonings in Sasolburg, Nelspruit en Johannesburg aanbied.
Dié vertoning is ’n byderwetse weergawe van die klassieke Aspoestertjie-sprokie, met treffers van ABBA soos Mamma Mia, Dancing Queen en Money Money Money.
Angela en Michael Revie behartig die choreografie met hul vernuwende benadering.
Die kostuums en stel is deur David Hutt ontwerp.
’n Spesiale gasvertoning word deur Cathy Specific (Brendan van Rhyn) gelewer as die Goeie Fee.
Van die wêreldgehalte-dansers wat in die vertoning te sien is, is Angela Revie, Aviwe November, Veronica Louw, Marlon Frometa Ballester (van die nasionale balletgeselskap van Kuba), Shana Dewey (voormalige danser van Joburg Ballet), Paulo De Jesus Gonzalez Gonzalez en Javier Monier Jouve.
Die vertoning wat op 29 Oktober aangebied word, begin om 15:00. Kaartjies kos tussen R120 en R199, en is by Pacofs se kantoor beskikbaar, of skakel 051-447-7772.
- Twee meestersklasse en werksessies vir junior en senior dansers sal deur die loop van die dag voor die vertoning aangebied word.
Rig navrae aan Kevin Hurter by 084-944-1844.