Karen van der Merwe (links, Elsa), Dorothy Booth (Helen) en Neels Vorster (Marius) is te sien in The Road to Mecca.Foto: Verskaf


Bloemfonteinse regisseur Niel van Niekerk beskou Athol Fugard se toneelstukThe Road to Meccaas een van sy beste dramas.

The Road to Mecca vertel die verhaal van Helen Martins, ook bekend as die Uilvrou van Nieu-Bethesda buite Graaff-Reinet.

Fugard het die storie baseer op die biografiese besonderhede van dié enigmatiese kunstenaar.

Niel, wat die regisseur is van die toneelstuk wat deur die ATKV-tak Gemeenskaps­teater ten bate van die Bloemfontein Hospice aangebied word, sê Helen was ’n gewone “kerkgaande” vrou, tot ná die dood van haar man.

Sy het een Sondagoggend die beeld van ’n uil in haar geestesoog gesien en sy het geroepe gevoel om dit lewe te gee.

Die drama handel ook oor die aanvaarding van die enkeling wat buite die samelewing sy of haar identiteit uitleef.

Helen, en haar huis, is met minagting en vrees deur die inwoners van die dorpie bejeën.

In die toneelstuk word dit duidelik haar goeie – heelwat jonger en liberale – vriendin, Elsa, is een van haar min ware vriende.

Haar ander vriend in die dorp is die konserwatiewe – en meer tradisionele _ dominee-figuur Marius.

Helen word ’n speelbal tussen die twee se verwagtinge van haar lewe, totdat sy standpunt inneem en dan haar eie “Mecca” skep.

Die drama het universele waarde omdat dit elke toeskouer dwing om na binne te kyk en sy of haar bron van ware lig te vind.

Die akteurs is Dorothy Booth as Helen, Karen van der Merwe as Elsa en Neels Vorster as Marius.

Road to Mecca is op 26, 27 en 28 Maart in die Doxa Deo-saal in Fickardtpark op die planke.

Vertonings begin om 19:00.

Kaartjies is teen R100 op phoenixpro.co.za beskikbaar.

’n Ouderdomsperk van 13 jaar is van toepassing, weens die gebruik van sterk taal.

You need to be Logged In to leave a comment.