Die span is van links, voor: Estelle Marx, Montle Pitso, Waratwa Lecoko, Thuto Mchunu, Jamie Plaaitjies, Lesedi Lethola, Camilyn Parkin en Ellé Cloete: agter: Jo-Nelke Swanepoel (afrigter), Mikayla du Toit, Louise Scholtz, Anneh Keyser, Louise Oelschig, Oratile Valashiya, Boitumelo Moloi, Letlotlo Maphisa, Cara Smit en Callista Dunn (spanbestuurder). Foto: Verskaf

Die Suid-Vrystaat-o.16-meisies-hokkiespan het aan die interprovinsiale toernooi deelgeneem en tot in die laaste wedstryd uitstekend gevaar.

Die toernooi, wat by die St Anne-meisieskool in Hilton, Durban, aangebied is, het in die week van 8 tot 13 Julie baie opwindende hokkie opgelewer.

Die Suid-Vrystaters het hul eerste wedstryd teen Limpopo A met 7 − 0 gewen; toe Noord-Vrystaat A met 6 − 1 geklop; en daarna teen Grens A met 5 − 1 gewen, teen Oos-Gauteng B met 3 − 0 gewen en teen Noordwes A met 3 − 3 gelykop gespeel. In die halfeindstryd het Suid-Vrystaat met 4 − 0 teen Eden A gewen.

Die span van die Suid-Vrystaat het in die eindstryd teen KwaZulu-Natal-binneland B te staan gekom. Teen die einde van die wedstryd was die telling 1 − 1. In die uitskiet-stryd het KwaZulu-Natal met 5 − 4 gewen en die Vrystaters moes met ‘n silwermedalje tevrede wees.

You need to be Logged In to leave a comment.