Na afloop van hierdie week word die dae weer langer.
Die koue, donker oggende gaan teen Augustus geleidelik ’n groter gordynskrefie na die vroegoggendson oopmaak.
Die siklus wat elke jaar herhaal – en ons eers laat groei; en dan laat oudword.
Kort ná die aanbreek van die winter gebeur die gevreesde weer.
Skoonma verloor beheer oor haar loopraam. Die kletterval gevolg deur haar angstige roep. En daardie totale weerloosheid waarheen ons aardse reise om die son ons neem.
Sy lê soos ’n kewer op haar rug. Weerloos, oud, seer, en – soos die x-strale kort daarna wys – gekraak, gebreek, gedaan. Bene onopereerbaar bros.
Terwyl ons beplan, begroot en bedink wat om te doen wanneer sy uit die hospitaal kom, is daar die blye nuus van nuwe aankomelinge by skoonsus se seun in Australië en ’n niggie in Bloemfontein.
Op WhatsApp-kiekies lê die babas ook weerloos en afhanklik. Die verskil is dat hulle afhanklikheid deur die seisoene tot onafhanklikheid gedraai gaan word. Anders as skoonma en die tannies wat haar hospitaal- en step-down-sale deel.
Wanneer draai die seisoen dan? Wanneer verander groei in oudword? Wanneer hou die bou op en begin die aftakeling?
As lid van die toebroodjie-generasie beleef ek my student-kinders se afwagting vir die avonture en stories wat die lewe nog gaan bring, en die verdwasing van skoonma se generasie oor die avontuur so kort was, en die stories so plotseling deurmekaar geraak het.
Tussen kruip, opstaan en loopraam tol die aarde om die son. En ek troos myself dat ’n mens net so oud is soos jy voel, dat ’n mens nooit weer so jonk gaan wees soos jy op hierdie oomblik is nie, dat die wonder van die moderne mediese wetenskap ons langer gaan jonk hou as die vorige generasies.
Ondanks al die opbouende selfgesprekke en suiwering van gedagtes flikker die tekens van tydsverloop soos populierblare wat vergeel in die herfs.
’n Zoom-skouer hier, ’n onverwagte jig-aanval, ’n stywe arm of been sonder dat ek enigiets gedoen het – ek wil met mening terugveg – kry ’n credo in Dylan Thomas se digkuns: “Do not go gentle into that good night, old age should burn and rave at close of day; Rage, rage against the dying of the light.”
Jare gelede het ons die toneelstuk Our Town as voorgeskrewe werk behandel.
Ek onthou dat een van die karakters vra of ’n mens ooit bewus is van die voorreg van die lewe en hoe vinnig dit verbygaan – en die antwoord kry dat net die digters en heiliges dit dalk soms besef.
Dis waarheen hierdie winter my lei: ek lees gedigte by die kaggelvuur – met ’n leesbril om my oë te help en te probeer verstaan waar op die reis ek nou is.
Waar is ek?
Daar waar ek moet blomme vergaar waar ek kan, waar ek reisgenote moet waardeer en respekteer en waar ek moet weet dat sukses en betekenis nie deur rol, rang of posisie bepaal word nie, maar deur wie jy is.
En, as dit is waar ek is, dan maak dit nie saak of ek oud of jonk is nie.