Arco Musica se musikante is van links Arend Brink, Cézanne Yzelle, Johan van Deventer, Debbie Brink, Arend Brink jr. en Petrus van Wyk.Foto: Verskaf


Sedert die ontstaan van die plaaslike musiekgroep Arco Musica in 1992 kan ’n suksesverhaal geskryf word oor die lang lys hoogtepunte, talle trefferproduksies en glansryke aande.

Twee geleenthede, met Bloemnuus as mediaborg, sal in Mei ’n terugblik oor 30 jaar se sukses gee.

Volgens Arend Brink, stigter van Arco, het die ensemble in die beginjare bestaan uit homself op tjello, sy vrou, Debbie, op klavier en Richard Reid op viool. Optredes is hoofsaaklik tot troues en korporatiewe geleenthede beperk.

Mettertyd is sangers betrek, die instrumentaliste is uitgebrei, kostuums het deel van die trefkrag geword en verskeie omvangryke produksies is in die Sand du Plessis-teater en ander lokale aangebied.

Die 30-jaar-viering, Celebration Show, beloof om dieselfde te bied.

Arend sê aangesien hy en Debbie oudleerlinge van die Hoërskool Sentraal is, het hulle dit goed gedink om die bekroonde skoolkoor onder leiding van Joretha Rossouw deel van die uitvoering te maak.

Die soliste wat hierby aansluit, is die Bloemfonteinse sangers Cézanne Yzelle, Arend Brink jr. en Corneil Müller, asook die Kaapse bariton Riaan Hunter. ’n Orkes van 12 lede staan hulle by, almal deftig uitgevat in kenmerkende Arco-styl.

Konsertgangers kan uitsien na liedjies soos “Because we believe”, “Lord of the dance”, “Liefling”, “My African Dream” en “Caruso”, asook temamusiek uit The Lion King en Pirates of the Caribbean.

Arend sê die talle genres wat Arco Musica in hul optredes insluit, maak die groep uniek. In een konsert kan lig-klassiek, Country, Gospel, Latyns-Amerikaans, pop en jazz op die lys van lekkerluister-liedjies wees.

Die lys van produksies wat Arco Musica die afgelope 30 jaar op die planke gebring het, is verstommend. Wie onthou nog Rapport sing in jou taal van 2006 tot 2008? Of Musiek met Passie (2010 en 2011) en Arco en Vriende Go Vintage (2012 en 2013)?

In 2014 het Symphony at the Woods gevolg, Classic Connection in 2015 en Arco en Adam in Symphony in 2017.

Arco se Bling & Black Tie Ball in die Ramblers Club in 2018, 2019 en 2020 was gewild en sy betrokkenheid by Grey-kollege (sekondêr) se jaarlikse musiekfees – albei aanlyn produksies in 2020 en 2021 – was ’n groot trekpleister.

Dan was daar ook Pick ’n Pay Preller Walk se groot buitelug aanbieding van Carols with the Stars in 2018 en 2021 in samewerking met Bloemnuus.

Arco Musica se uitgangspunt om jong kunstenaars optreekans te gee is gestand gedoen, maar hulle het ook van die bekendste sangers in Suid-Afrika genooi om in die glansryke produksies in Bloemfontein op te tree.

Dink maar aan Corlea Botha, Jannie Moolman, Adam, Nianell, Mathys Roets, Brandon October, Jannie du Toit, Lucas Maree, Coenie de Villiers, Romanz, Louis Brittz, Pieter Koen, Heinz Winckler en Caroline Grace.

  • Celebraton Show word op Vrydag 20 en Saterdag 21 Mei om 19:00 in die Doxa Deo-ouditorium in Fichardtpark aangebied. Kaartjies kos R140 tot R200 en is op die aanlyn platform Quicket beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.