Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) sal weer begin volgende jaar ’n visekanselier en rektor hê.

Die universiteit het Maandag (03/10) in ’n verklaring aangekondig prof. Pamela Dube, nou adjunkvisekanselier van studente-ontwikkeling en -ondersteuning aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), is in die pos aangestel. Die aanstelling is van 1 Januarie.

Die aankondiging volg meer as ’n jaar nadat prof. Henk de Jager einde September verlede jaar dié kantoor ontruim het nadat ’n ooreenkoms met die SUT-raad bereik is. Prof. Alfred Ngowi, adjunkvisekanselier: navorsing, innovasie en samewerking aan die SUT, het intussen waargeneem.

Ngowi sal tot einde Desember as visekanselier en rektor waarneem. Seithati Semenokane, SUT-woordvoerder, sê in die verklaring Dube bring uitgebreide kennis en ervaring in die hoëronderwyssektor met haar saam.

“Sy het haar vermoë om vennootskappe te bou en strategiese verbintenisse op verskeie vlakke te lei, insluitend ondersteuningsinisiatiewe vir studenteleierskapontwikkeling, getoon.

“Bykomend tot haar aansienlike ervaring op uitvoerende vlak het sy ook akademiese uitnemendheid behaal.”

Semenokane sê Dube het ’n doeltreffende benadering tot die bou van verhoudings met akademiese, regerings- en sakevennote en beskik oor openbarekommunikasievaardighede.

“Sy bring ook ryke ervaring en passie vir die werk met studente, wat die topprioriteit van die SUT bly.”

Luidens die UWK se webtuiste het sy onder meer ’n BA-honneursgraad in drama en uitvoerende studies aan die Universiteit van KwaZulu-Natal verwerf, en ’n doktorsgraad in vergelykende literatuur- en mediastudies aan die Universiteit van Siegen, Duitsland.

Luidens die webtuiste was sy voorheen onder meer ’n navorser en dosent aan laasgenoemde universiteit, direkteur en waarnemende hoofdirekteur in die nasionale onderwysdepartement, en die hoof van mensehulpbronne-ontwikkeling en internasionale betrekkinge by die Suid-Afrikaanse kernenergiekorporasie, Necsa.

You need to be Logged In to leave a comment.